Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Thursday 28 November 2013

Algemene Jaarvergadering - 2013

Een van die hoogtepunte van die jaarlikse kalender, die Algemene Jaarvergadering van die Bestuursvereniging, is op 28 November 2013 gehou.

Hierdie vergadering is uiteraard van belang omdat die voorsitter die jaar in oënskou neem, die begroting vir 2014 bespreek word, sake van algemene belang onder die loep geneem word en 'n bestuurskomitee vir 2013 gekies word.

In sy jaarverslag het die voorsitter vir 2013, Johnny Meyer, nuwe intrekkers verwelkom en sy meegevoel betuig met diegene wat geliefdes aan die dood afgestaan het.

Meyer het 'n spesiale woord van dank aan die administratiewe beampte, Jacky Putter, laat toekom. Nie alleen het sy haar taak baie goed verrig nie, maar het oordbewoners met deernis behandel.

Hy het eweneens met lof gepraat van die hantering van die oord se finansies deur Rehanett Bezuidenhout, die oord se Bestuursagent.

"Met iemand soos Rehanett aan die stuur van ons finansies," het Meyer gesê, "kan dit nie anders as goed gaan nie."

Die begroting vir 2014 is vervolgens goedgekeur. Dit maak onder andere daarvoor voorsiening  dat die maandelikse heffings met 9,767% verhoog sal word.

Die Sosiale Aksie, wat bestaan uit 'n groep raakvatters onder leiding van Shiela Meyer, het verskeie sosiale geleenthede gereël, onder andere die Kersete wat onlangs aangebied is. Klik HIER om meer daaroor te wete te kom.

Renaissance-inwoners is met reg trots op die parkagtige oord waarin hulle woon. Jannie Botha, die eienaar van Soetdoring Tuindienste, en sy werkers speel 'n deurslaggewende rol om die terrein te versorg. Klik HIER om foto's van die terrein te besigtig.

Dit help nie veel om in 'n pragtige oord te woon, dog die veiligheid van die inwoners is nie na wense nie. Die gekontrakteerde sekuriteitsmaatskappy, Secret Eye Surveillance, sorg vir die inwoners se gemoedsrus in dié verband.

Meyer het spesiaal melding gemaak van die belangrike funksie wat Louis van Wyk vervul. Louis behartig die bestuurskomitee se onderhoudsportefeulje.

"Alles wat breek en herstel moet word, is Louis se verantwoordelikheid," het hy gesê. "Hy is altyd gewillig om mense te help."

Hy het afgesluit met 'n woord van dank en waardering vir die mindere of meerdere bydrae wat talle ander inwoners lewer.

Die vergadering het vervolgens 'n mosie van dank aan Meyer, die bestuurskomitee en die subkomitees aanvaar.

Hierna het die voorsitter kennis gegee dat die bestuurskomitee voornemens is om 'n oplossing ten opsigte van die buitengewoon hoë waterverbruik deur inwoners, op 30 Januarie 2014 aan 'n Spesiale Algemene Vergadering voor te lê. 

Die vergadering is afgesluit met die verkiesing van die bestuurskomitee vir 2014.

Johnny Meyer is die voorsitter, Braam Cronjé, die ondervoorsitter en Barry Vosloo, die sekretaris. Hulle sal bygestaan word deur Piet Combrink (tuindiens, blok A), Roy Derbyshire (finansiële sake), Bets de Jager (tuindiens, blok B), Tommy Marx (watersake), Pat Pretorius (sekuriteit), Dimmie Smith (elektriese sake), John Scheepers (nuusbrief), Louis van Wyk (onderhoud), Rehanette Bezuidenhout (bestuursagent).

Klik HIER om foto's van die nuwe bestuurskomitee te besigtig.

No comments:

Post a Comment