Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Tuesday 30 March 2021

Oord verwelkom Magda Botha

Magda Botha (74) het voorheen saam met haar eggenoot, Koos, in die Avondrus-sekuriteitsoord, Rooiberg, gewoon. Koos is ongelukkig onlangs oorlede. Hy was 76 jaar oud.

Magda en Koos het sowat drie jaar gelede daaraan begin dink om na ons oord te verhuis. Nadat hulle verskeie eenhede oorweeg het, het hulle onlangs besluit om E12 te koop. Magda is heel ingenome met haar gerieflike wooneenheid. Hierbenewens is sy in haar noppies met haar vriendelike buurmense.

Magda is in hart en niere ʼn Pretorianer. Nadat sy in 1964 aan die Hoërskool Langenhoven gematrikuleer het, het sy ʼn diploma in tikskrif aan die Pretoriase Tegniese Kollege behaal. Sy was vervolgens jare lank ʼn tikster by die Departement van Openbare Werke in Pretoria.

Sy en Koos is in 1966 in die NG Kerk BosmanstraatPretoria, getroud. Twee dogters is uit hulle huwelik gebore.

Friday 26 March 2021

Oord verwelkom Willie en Elzi Fölscher

Willie en Elzi Fölscher het ʼn rukkie gelede hierheen verhuis en hulle intrek in E87 geneem. Hulle het voorheen twee jaar lank op Hartenbos gewoon. Voordat hulle dáárheen getrek het, het hulle tien jaar lank in die Faerie Glen Renaissance-aftreeoord gewoon.

Thursday 25 March 2021

Oord verwelkom Jan en Sonia Boezaart


 Jan (73) en Sonia (69) Boezaart het onlangs hul intrek in E73 geneem nadat hulle hul kleinhoewe in Pretoria-Oos om veiligheidsredes verkoop het.

Sonia is in Krugersdorp gebore en getoë. Nadat sy die skool verlaat het, het sy in die huwelik getree, dog haar eggenoot het haar ontval. Sy het haar mettertyd in die Warmbad-distrik bevind waar sy ʼn slaghuis bedryf het. Toe sy haar oë uitvee, verskyn Jan op die toneel. Dié  twee is uiteindelik in 2012 getroud. Jan was ook voorheen getroud. Hul het gesamentlik 5 kinders, 10 kleinkinders en 4 agterkleinkinders.

Jan is in Pretoria gebore waar hy ook grootgeword het. Nadat hy in 1966 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool Pretoria (die nimlike Affies) gematrikuleer het, het hy ʼn diploma in die lugvaart-ingenieurswese behaal. Hy was vervolgens 25 jaar lank ʼn vlieënier in diens van die Suid-Afrikaanse Lugmag waar hy uiteindelik die rang van luitenant-kolonel beklee het. Nadat hy sy ontslag geneem het, was hy by die Wonderboomlughawe gemoeid met die instandhouding en sertifisering van vliegtuie.

Wednesday 24 March 2021

Lord Kitchener's legacy: Bela-Bela's very own blockhouse


In 1900 Lord Kitchener (see photograph above) succeeded Lord Roberts as commander-in-chief of the British forces in South Africa during the Second Anglo-Boer War. He soon became the driving force behind infamous actions designed by Roberts to weaken Boer resistance: burning their farms, destroying their livestock and herding their women and children into concentration camps. He also decreed that blockhouses be erected from January 1901 onwards to protect the railway lines in South Africa from marauding Boer guerrilla fighters.

One remains in our town. The stone-built blockhouse (see photograph above) is situated on the vehicle testing grounds in the industrial area. Its purpose was to protect the railway station.

Today it is a national monument and, until recently, regarded as one of the best preserved in the country.

Thursday 4 March 2021

Oord verwelkom Gert en Aniki Myburgh


 Gert (72) en Aniki (70) Myburgh is deurwinterde Vrystaters wat onlangs in E27 ingetrek het. Hulle het hierheen verhuis omdat ons oord op die platteland geleë is, dog binne maklike bereik van uitstekende geneeskundiges in Pretoria van wie Aniki afhanklik is.

Gert is in Bloemfontein gebore. Hy en sy gesin het later na Wepener verhuis waar hy sy skoolopleiding in 1966 aan die plaaslike hoërskool voltooi het. Hierna het hy die gebruiklike SAW-diensplig deurloop voordat hy verskeie posisies in die poswese beklee het. Hy het in 1984 by die SAW aangesluit en in 2007 met die rang van AO1 in Pretoria afgetree.

Terwyl hy en Aniki inwoners van die Jordaniapark-aftreeoord in Kroonstad was, was Gert die Voorsitter van die Bestuurskomitee.

Aniki is in hart en niere ʼn Bloemfonteiner. Nadat sy in 1968 haar skoolopleiding aan die Hoërskool van Kerken voltooi het, het sy die bankwese betree en later tuisonderrig aangebied. Mettertyd het sy haar in die SAW bevind waar sy in 2003 as die persoonlike assistent van ʼn generaal afgetree het.

Gert en Aniki vier later vanjaar hul vyftigste huweliksherdenking. Hulle het drie kinders en vier kleinkinders.

Tuesday 2 March 2021

Oord verwelkom Herman en Antoinette le Roux

 

Herman en Antoinette le Roux

Herman (75) en Antoinette (75) le Roux is gebore en getoë Vrystaters wat onlangs hulle intrek in E48 geneem het nadat hulle verskeie aftreeoorde elders in die land oorweeg het.

Hulle is gaande oor ons plattelandse Bosveldlandskap, goedversorgde oord met sy vriendelike inwoners en die feit dat hulle kinders, kleinkinders en ander familie in Pretoria en Johannesburg woonagtig is. En as die verlange na hulle seun en dié se gesin in Perth, Australië groot word, is hulle binne maklike bereik van ʼn internasionale lughawe.

O ja, hulle is versot op woonwavakansies!

Antoinette is op Clocolan gebore. Nadat sy in 1963 aan die Hoërskool Clocolan gematrikuleer het, is sy na die Bloemfonteinse Onderwyskollege waar sy ʼn diploma in pre-primêre onderwys behaal het. Antoinette het groot deernis met gestremde kinders met die gevolg dat sy tien jaar lank by die Lettie Fouché Skool vir verstandelik erg gestremde kinders in Bloemfontein gewerk het. Sy het in 2002 afgetree as die hoof van ʼn privaat pre-primêre skool in Bloemfontein.

Herman is op Breyten gebore, maar het op Marquard grootgeword waar hy in 1963 aan die plaaslike hoërskool gematrikuleer het. Nadat hy grade aan die Universiteite van Bloemfontein en Port Elizabeth behaal het, het hy in 2006 as ʼn professor in wiskunde aan die Universiteit van die Vrystaat afgetree.

Herman en Antoinette is in 1968 in Bloemfontein getroud. Hulle het twee seuns en vyf kleinkinders.

Monday 1 March 2021

Oord verwelkom Jurg en Joey Dreyer

Jurg en Joey Dreyer
Jurg (71) en Joey (70) Dreyer het onlangs in E37 ingetrek. Soos talle mede-inwoners, is hulle woonwa-entoesiaste. Trouens, hulle het ons oord goed leer ken terwyl hulle jare lank woonwavakansies by ons eie Aventura-vakansieoord deurgebring het. Toe hulle ʼn aftreeplekkie soek, was dit dus te wagte dat hulle eerste keuse Warmbad Renaissance sou wees. 

Joey is in Reddersburg gebore en het op Vierfontein grootgeword. Hier het sy in 1968 haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Ben Havemann voltooi. Sy het daarna ʼn diploma in administrasie aan die Bloemfonteinse Tegniese Kollege behaal. Sy het vervolgens verskeie administratiewe poste beklee voordat sy na veertig jaar diens as ʼn administratiewe beampte by ABSA afgetree het. 

Jurg is in Vrede gebore. Hy het sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Vrede voltooi. Hierna het hy verskeie betrekkings beklee voordat hy as Senior Verkeersinspekteur by die voormalige Transvaalse Provinsiale Administrasie afgetree het. 

Jurg en Joey is in 1972 in die Tweetoringkerk in Bloemfontein getroud. Hulle het twee kinders en drie kleinkinders