Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Friday 30 December 2016

Jan Pyp skenk skilderye aan oord

Nadat hulle sedert 1994 onafgebroke in die oord gewoon het, moes Jan en Jean van Blerk onlangs weens Jan se beroerteaanval verhuis na ‘n oord in Bryanston waar hy gespesialiseerde versorging kan ontvang.

Jan was alombekend as Jan Pyp. Hy en sy pyp was haas onafskeidbaar.

Terwyl Jean besig was om hulle eenheid te ontruim, het sy besluit om twee van Jan se skilderye aan die oord te skenk.

Die skilderye sal in die administrasiegebou uitgestal word.

Gerhard van Rooyen, voorsitter van die bestuurskomitee, ontvang die skilderye namens die oord
Jan was in 1988 burgemeester van Johannesburg en ‘n talentvolle skilder wat hom op Bosveldtonele toegespits het.

Jan, tydens sy dienstermyn as burgemeester van Johannesburg

Jean en Jan poseer in Jan se ateljee

Thursday 29 December 2016

Oom Paul se agteragterkleindogter verhuis na Warmbad Renaissance

Danie en Louise du Plessis
Nádat hulle 'n uitgebreide soektog na 'n aftreeplekkie onderneem het, het Danie (74) en Louise (71) du Plessis op ons webtuiste afgekom met inligting oor ons mooie, veilige en bekostigbare aftreeoord in die Bosveld. Hulle het vanaf Pretoria hierheen gereis om ondersoek in te stel en het gou besluit dat Warmbad Renaissance die plek is waar hulle hulle oudag wil slyt. Hulle het onlangs hulle intrek in E60 geneem.

Louise, 'n agteragterkleindogter van oud-pres. Paul Kruger van die ZAR, is op Rustenburg gebore en het op 'n plaas in die Ellisras-omgewing grootgeword. Sy het in 1961 matriek aan die Hoërskool Ellisras behaal. In 1963 het sy 'n handelsdiploma aan die Pretoria Tegniese Kollege verwerf en by die United Building Society begin werk.

Oud-pres. Paul Kruger van die ZAR
Danie is in Marken gebore waar hy grootgeword het voordat hy in 1960 matriek aan die Hoërskool Potgietersrust behaal het. Voordat hy in 1993 as die Hoof: Debiteure by die Grootegeluk-steenkoolmyn uitgetree het, was hy op verskeie plekke 'n stasiebevelvoerder in die SAP.

Danie en Louise is in 1965 op Nylstroom getroud. Drie kinders en vyf kleinkinders is uit hulle huwelik gebore.

Sunday 4 December 2016

Ons witpenssuikerbekkie broei voort

Vlak teenaan die hoofingang van ons oord broei ‘n witpenssuikerbekkie onverstoord voort, ondanks voertuie en mense wat gereeld by haar nessie verbybeweeg.

Piet Combrink het die onderstaande foto’s geneem.

Waar's die nessie?
Hier's die nessie met die witpenssuikerbekkie aan 't broei
Klik HIER indien u meer van hierdie interessante voëltjie te wete wil kom.

Afsluitingsgeselligheid - 2016

Die negende uit tien funksies wat vanjaar deur die oord se sosiale aksie-groep aangebied is, het onlangs plaasgevind toe die afsluitingsgeselligheid op 1 Desember gehou is. 

Inwoners verwys tereg na die afsluitingsgeselligheid as die hoogtepunt op die oord se sosiale kalender.

Die voorsitter van die bestuurskomitee, Gerhard van Rooyen, het die sosiale aksie-groep in sy verwelkoming lof toegeswaai vir die voortreflike driegangmaaltyd wat hulle voorberei het. Hy het ook die borge, Pick n Pay, Waterberg Toyota, PSG Warmbad en Oasis, van harte bedank vir hulle gewaardeerde bydrae. Op haar beurt het die sameroeper van die sosiale aksie-groep, Rita Vosloo, hulde gebring aan die groot groep staatmakervroue (en -manne!) wat vir die voorbereiding van die Nes, die keurige tafelversierings en die voorbereiding van die smaaklike disse verantwoordelik was.

Enkele staatmakers van die sosiale aksie-groep. V.l.n.r. verskyn Linda Grobler, Linkie Ellis, Annetjie van Rooyen, Annetjie du Plessis, Rita Vosloo (sameroeper), Elize Yeo en Ria Bester
Die tafels is gereed vir die feesmaal

Nadat Annemike du Preez en Isabel Schoeman die aanwesiges se hartsnare met ‘n kort uitvoering van Kersliedere geroer het, het die Groot Kuier met mening begin
Ons bestuursagent, Frikman Nel en sy aanvallige wederhelf, Zelda, was ons spesiale gaste en het vanaf Pretoria hierheen gereis om ons met hulle teenwoordigheid te vereer. V.l.n.r. verskyn Frikman, Gerhard van Rooyen (voorsitter van die bestuurskomitee) en Zelda
Inwoners geniet die smullekker maaltyd en mekaar se geselskap. V.l.n.r. verskyn Dries Engelbrecht, Pieter Heyneke, Andries Esterhuizen, Beatrix Esterhuizen, Annette Heyneke en Silvia Engelbrecht