Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Sunday 25 September 2016

Oord verwelkom Kobie en Robert Hall

Kobie en Robert Hall
Kobie (59) en Robert (61) Hall het verskeie veiligheidskomplekse oorweeg voordat hulle onlangs vanaf die Rand na ons oord verhuis en hulle in E42 tuisgemaak het. Hier het hulle gou korte mette gemaak met die ietwat ouderwetse voorkoms van hulle eenheid. Tans vertoon dit heel byderwets.

Op die vraag waarom hulle juis op Warmbad Renaissance as ‘n woonplek besluit het, rammel Kobie die redes sonder omhaal van woorde af: bekostigbaarheid, die goedversorgde terrein, veiligheid, rustige plattelandse omgewing, goeie plaaslike mediese geriewe en, les bes, die feit dat haar ouers, Mari en Carl Fechner (E57), óók in die oord woon.

Kobie is ‘n sprankelende, lewenslustige vrou wat op Klerksdorp gebore is en op Krugersdorp grootgeword het. Hier het sy aan die Hoërskool Monument gematrikuleer voordat sy ‘n onderwysdiploma aan die Goudstadse Onderwyskollege behaal het. Later het sy ‘n hoër onderwysdiploma in remediërende onderwys aan die Onderwyskollege vir Verdere Opleiding in Pretoria behaal.

Kobie het besondere deernis met leergestremde kinders en het gevolglik haar hele onderwysloopbaan aan hulle belange gewy. Sy het uiteindelik in 1997 ‘n uittreepakket aanvaar terwyl sy aan die Lantern Remediërende Skool verbonde was.

Robert is ‘n standvastige, doelgerigte man wat in Bantrybaai in die Weskaap gebore is en op Vredenburg grootgeword het. Hier het hy aan die Hoërskool Vredenburg gematrikuleer voordat hy die Hoër Onderwysdiploma aan die Goudstadse Onderwyskollege behaal het.

Na ‘n korterige onderwysloopbaan is hy privaatsektor toe. Tans is hy ‘n projekbestuurder by Edcon en verantwoordelik vir die vestiging van die groep se winkels in Limpopo.

Robert en Kobie het mekaar op onderwyskollege ontmoet en is in 1979 op Krugersdorp getroud nadat sy hom van een van haar vriendinne afgevry het! Hulle het twee kinders en ‘n pragtige kleinseun op wie hulle versot is.

Kobie verwoord haar gunstelingtydverdryf so: “When I work, I cook. For fun I bake!” In sy vrye tyd restoureer Robert graag meubels.

Thursday 22 September 2016

Inwoners vier koms van lente

Inwoners het onlangs die koms van die lente met ‘n smullekker ontbyt in een van ons funksielokale gevier.

Nou wag ons net vir die eerste lentereën.

Die onderstaande foto’s bied ‘n oorsig van die verrigtinge.

Enkele staatmakers van die Sosiale Aksie. V.l.n.r. verskyn Lienkie Ellis, Jadene Horne, Elize Yeo en Annatjie du Plessis
In afwagting van die tafelgebed
Opskeptyd
Smultyd

Friday 16 September 2016

Oord verwelkom Penny Pienaar

Alhoewel Penny Pienaar (53) reeds 26 jaar lank in Bela-Bela woon, het sy onlangs eers haar na Warmbad Renaissance verhuis waar sy haar intrek in E33 geneem het.

Sunday 11 September 2016

Uitstappie na die Pretoria Nasionale Botaniese Tuin

Onlangs het ‘n groep toegewyde tuiniers van die oord die Pretoriase Nasionale Botaniese Tuin onder leiding van Piet Combrink besoek om meer te leer van droogtebestande tuinbou. Piet is die sameroeper van die oord se bewaringskomitee.

Saturday 10 September 2016

Oord verwelkom Chris en Anne van den Heever

Chris (62) en Anne (62) van den Heever het pas in E75 ingetrek. Hulle kan nie uitgepraat raak oor ons oord en die rustigheid wat hulle ondervind nadat hulle ‘n leeftyd in die gewoel van Johannesburg en omgewing gewoon en gewerk het.

Friday 9 September 2016

Resident honoured by local Rotary Club

During the induction of the new President of the Rotary Club of Warmbaths, a number of individuals were honoured for the role they have played in improving the lives of others.

Thursday 1 September 2016

Waak teen indringerplante


PIET COMBRINK skryf: Baie tuiners besef nie dat sommige plante in hulle tuin indringerplante is wat ingevolge wetgewing verwyder moet word nie.