Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Saturday 28 July 2018

Ons webtuiste lok Pieter en Sophia hierheen

Pieter (80) en Sophia Maas (79) het onlangs vanaf Lichtenburg hierheen verhuis.

Pieter en Sophia Maas
Hierdie egpaar het verskeie aftreeoorde elders oorweeg, dog ons webtuiste het ʼn deurslaggewende rol in hulle finale besluit gespeel. Hulle dogter het tydens ʼn internetsoektog daarop afgekom en dit aan hulle getoon. Hulle het terstond E10 gekoop omdat hulle dadelik geweet het dat Warmbad Renaissance die plek is waar hulle hul oudag wil slyt.

Tot dusver is hulle heel ingenome met hul besluit. Warmbad is op die platteland, dog naby Pretoria met sy uitmuntende mediese geriewe.   Hierbenewens voel hulle veilig in die oord en hulle mede-inwoners is vriendelik en behulpsaam. Die feit dat hulle twee kinders en twee kleinkinders in Pretoria woon, is gewis ʼn pluspunt.

Pieter sê dat hy op ʼn wa naby Springbok in Namakwaland gebore is. Hy het die skool aan die einde van graad 9 verlaat om op Pofadder in die poskantoor te werk. Die salaris was maar klein met die gevolg dat hy by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangesluit het. Hy het mettertyd matriek “oor die pos” geslaag, verskeie polisieverwante kursusse suksesvol deurloop en uiteindelik met die rang van kaptein uit die polisiediens getree.

Sophia is op Kenhardt gebore en getoë. Nadat sy matriek aan die Hoërskool Kenhardt geslaag het, het sy ʼn onderwysdiploma aan die Onderwyskollege Paarl behaal. Sy het die onderwys op 52-jarige ouderdom vaarwel toegeroep nadat sy haar hele loopbaan lank vir die graad drietjies skoolgehou het. Haar laaste pos was by die Laerskool Coligny. 

Thursday 26 July 2018

Só het ons oord ontwikkel (2)

Soos voorheen vermeld, beoog ons om in die volgende paar maande stories van ons oord se ontwikkeling te plaas. Hiervoor het ons soms gaan kers opsteek by persone wat betrokke was, maar meer dikwels het ons ons tot ou notules van die bestuurskomitee en foto-albums gewend en afgekom op kosbare grepies uit ons oord se verlede.

In die notule van ʼn buitengewone algemene vergadering wat op Donderdag, 9 Julie 1992 gehou is, verskyn die volgende paragraaf: 3.2  Die gemeenskapsentrum sal op 1 Oktober [1992] gereed wees vir okkupasie.”

Die buitengewone algemene vergadering wat op 9 Julie 1992 gehou is
Die gemeenskapsentrum in aanbou, ca. 1992. In die agtergrond verskyn reeds-voltooide eenhede 77, 78 en 79. Die munisipale watertoring troon bo die bouwerk uit
Die gemeenskapsentrum soos dit tans daar uitsien. Dit huisves Die Nes (links) en administratiewe kantore op regterhand
Die gemeenskapsentrum is die hartklop van ons oord se gemeenskapslewe. Hierdie foto is vroeër vanjaar tydens een van vele sosiale geleenthede geneem


Tuesday 24 July 2018

Margaret vind 'n veilige tuiste.

Margaret Kotzé (75) het vanaf Lydenburg na ons oord verhuis. Sy het onlangs haar intrek in E131 geneem.


Margaret Kotzé
Margaret vertel dat sy haar later nie meer kon versoen met haar groot tuin en die koue winterwind wat in daardie geweste waai nie. Om nie te praat van die inbrake waarvan sy gereeld ʼn slagoffer was nie. Sy het mettertyd besluit om ʼn ogie in die seil te hou vir ʼn kleiner woning in ʼn veilige omgewing waar die winterweer warmer is.

Haar kinders het ná ʼn internetsoektog op ons webtuiste afgekom en dit aan haar gewys. Sy het intuïtief geweet dat dít die plek is waar sy graag wil woon. Die feit dat haar drie kinders en vyf kleinkinders op Secunda, Centurion en Boksburg woon en dus maklik bereikbaar is, het óók ʼn rol gespeel. 

Haar eggenoot, Dirk, het haar jare gelede ontval.

Margaret is op Tadcaster gebore en getoë. Sy is later na die Hoërskool Vaalharts op Jan Kempdorp waar sy in 1961 gematrikuleer het. Daarna is sy na die Denneoord-onderwyskollege wat toentertyd noue bande met die Universiteit van Stellenbosch gehandhaaf het. Sy was ʼn lid van die Stellenboschse Universiteitskoor onder leiding van die legendariese prof. Gawie Cilliers.

Denneoord-onderwyskollege, Stellenbosch
Nadat sy in 1963 die Hoër Onderwysdiploma in Kleinkindertuinonderwys behaal het, het sy ʼn graad 2-onderwyspos op Kuruman aanvaar. Later het sy by verskeie skole gewerk voordat sy op Lydenburg uitgetree het. Hier het sy saam met ons bestuurskomiteevoorsitter se ma, Trientjie, skoolgehou. Trouens, sy het ʼn huldeblyk geskryf wat in Trientjie se begrafnisbrief geplaas is.

Sunday 22 July 2018

Bestuurskomitee eer Isabel se nagedagtenis

Afgesien daarvan dat sy en wederhelf Ampie die eerste inwoners van die oord was, was wyle Isabel Hattingh alom gelief en het diep spore in die gemeenskapslewe van ons oord getrap.


Wyle Isabel Hattingh
Isabel was ondermeer in die negentigerjare een van die leiers van die oord se koor en revuegroep wat verskeie toekennings van die Waterberg Afrikaanse Kunstefees ontvang het.



Die oord se revuegroep in die negentigerjare. Isabel verskyn  in die voorste ry, vyfde van links
Hierbenewens was Isabel ‘n staatmaker van die sosiale aksie en ‘n tuinliefhebber wat ‘n enorme rol gespeel het in die verfraaiing van ons oord en die versorging van die gemeenskaplike terrein.

Vroeër vanjaar het die bestuurskomitee besluit om Isabel se nagedagtenis in ere te hou deur ‘n bronsplaatjie wat op ‘n klip uit haar tuin gemonteer is. Dié gedenkteken is langs die witstinkhoutboom voor die administratiewe gebou geplaas wat ter herinnering van haar geplant is (foto onder).



Saturday 21 July 2018

They're tops!

Our friendly and helpful security officers shown below, are Lucky Masemola, Frans Matjila and Thomas Chauke.  They are employed by our contracted security company, Galven Security.

Lucky holds an advanced qualification in combatting bush and veldfires. Frans has already completed ten Comrades Marathons. Thomas has been working for Galven Security since 2007.

Lucky Masemola
Frans Matjila
Thomas Chauke