Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Monday 30 November 2020

Oord verwelkom Herman en Jitske Kroukamp


 Herman (70) en Jitske (66) Kroukamp woon in E124 en is een van die min egpare in die oord wat mekaar al van kindsbeen af ken. Hulle is in Johannesburg gebore, het in Northcliff grootgeword en hulle skoolopleiding aan die Hoërskool Linden voltooi – Herman in 1967 en Jitske in 1969.


Herman het vervolgens ʼn pos as ʼn pensioenadministrateur aan die Universiteit van die Witwatersrand aanvaar. Hy het in 2009 by dieselfde inrigting as Senior Pensioenadministrateur afgetree.

Jitske het haar beroepslewe as ʼn litograaf begin en uiteindelik ʼn grafiese ontwerper by Media24 geword.

Herman en Jitske is in 1974 getroud. Hulle het ʼn seun en ʼn dogter en drie kleinkinders wat in Kanada en Nederland woon.

Sunday 29 November 2020

"As die wind so waai soos hy nou daar waai ... "

ʼn Hewige storm met reën, wind en hael het Bela-Bela op 6 November in die vroeë oggendure getref.

Die stormwind het ʼn geskatte veertien bome in ons oord ontwortel en talle ander beskadig. Ons pragtige tuine het ook erg deurgeloop. Gelukkig was daar geen skade aan die wooneenhede nie. E88 het egter groot teenspoed naelskraap vrygespring (foto onder)

Drie koorsbome het die noord-oostelike hoek van ons veiligheidsomheining verwoes (foto onder). Galven Security het egter gou op Gerhard van Rooyen (Sekuriteitsportefeulje) se versoek gereageer en ʼn veiligheidswag daar geplaas. Tydelike herstelwerk is reeds gedoen. Die heining sal mettertyd ten volle opgeknap word.

Dis belangrik om kennis te neem dat ons veiligheidsmaatreëls hoegenaamd nie in die gedrang is nie.

Die oord betuig graag namens sy inwoners sy waardering aan Jannie en sy tuindiensspan wat onverpoos geswoeg het om die omgevalle bome op te saag en te verwyder.

Ons werkers het eweneens gewoel en gewerskaf om orde uit die chaos te skep.

Ons durf ook nie die bydrae van Galven Security geringskat nie. Afgesien van die veiligheidswag wat die maatskappy op kort kennisgewing voorsien het om die gaping in die veiligheidsomheining te bewaak, lewer hulle lank reeds uitstekende diens aan ons oord. Hulle personeel vertoon te alle tye netjies en tree deurgaans vriendelik, hoflik en behulpsaam teenoor ons inwoners op. Frans Matjila (foto onder) is een van hulle staatmakers.

 

Friday 27 November 2020

Oord verkies 2021-bestuurskomitee

 Die oord het op 26 November sy 2021-bestuurskomitee verkies. 

Voorste ry (v.l.n.r): Ingrid van den Berg (Sekretaresse), Roedolph Botha (Ondervoorsitter), Wessie van der Westhuizen (Voorsitter) en Werner Pauw (Ontwikkelaar)
Agterste ry (v.l.n.r.): Rina Steynberg (Sosiaal), Elsa Erasmus (Tesourier), Gerhard van Rooyen (Onderhoud), Frikman Nel (Bestuursagent) en Ria Nel (Administrasie)