Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Monday 4 November 2013

Die eerste "eerste paar" van Warmbad Renaissance

Henry en Toy van Nieuwenhuizen
Toe Henry en Toy van Nieuwenhuizen in 1991 by eenheid 25 ingetrek  het, was Renaissance nog in aanbou en die terrein, wild en woes en driekwart leeg.

Die ander inwoners het gou besef dat Henry 'n raakvatter is. Hy is gevolglik in 1991 aangewys as die eerste voorsitter van die Warmbad Renaissance Aftree-oord se bestuurskomitee, 'n posisie wat hy ook in 1992, 1993, 1995 en 1996 beklee het.

Henry vertel: "Die eerste Algemene Vergadering het op 24 September 1991 plaasgevind. Omdat die Nes en die Lapa nog in aanbou was, is die vergadering sommer onder die afdak van eenhede 19 en 20 gehou. Dit is deur twaalf inwoners bygewoon."

Die eerste Algemene Vergadering, 24 September 1991
Onder sy bekwame leiding het die bestuurskomitee fluks aan die werk gespring. Finansiële en ander komitees is tot stand gebring, gedragsreëls is opgestel en deur die inwoners bekragtig, tuinboukundiges het begin om die terrein te verfraai, inheemse bome is geïdentifiseer en van naamplaatjies voorsien, om maar enkeles te noem.

Henry is 80 jaar gelede in die Groblersdal-distrik gebore en het op Witbank grootgeword. Toy (78) is in Middelburg gebore. Albei het aan die Hoërskool Genl. Hertzog op Witbank gematrikuleer. Omdat hulle ouers dit nie kon bekostig om hulle verder te laat studeer nie, moes hulle uitspring en begin werk. Henry het mettertyd deur middel van deeltydse studie as 'n bedryfsinginieur gekwalifiseer. By sy aftrede was hy die besturende direkteur van 'n maatskappy wat op Rustenburg toerusting vir die SAW vervaardig het.

Henry en Toy is reeds 58 jaar getroud. Sanet (56) en Johan (54) is uit die huwelik gebore. Mettertyd het vier kleinkinders en vier agterkleinkinders hulle opwagting gemaak.

Les bes is hierdie innemende egpaar woonwa-entoesiaste, toegewyde tuiniers en ywerige voëlkykers.

No comments:

Post a Comment