Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Monday 28 April 2014

Bestuurskomitee vergader weer eens

Let asseblief daarop dat die ondervermelde enkele uittreksels is uit die ontwerp-notule van die maandelikse Bestuurskomiteevergadering van 24 April 2014. Aangesien dié dokument eers op 29 Mei 2014 bekragtig sal word, is dit dus moontlik dat klein wysigings dan aangebring kan word.

Friday 18 April 2014

Die Helderberg-vliegramp - Alet was daar

Vlug 295 van die Suid-Afrikaanse Lugdiens was 'n kommersiële vlug wat op 28 November 1987 in die Indiese Oseaan oos van Mauritius neergestort het nadat 'n katastrofiese brand in die Boeing 747 se laairuimte ontstaan het. Al die passassiers en bemanning het omgekom.

Die vliegtuig het as die Helderberg bekend gestaan.

Die Helderberg
Na 'n uitgebreide soektog is een van die vlugdata-opnemers op 'n diepte van 4 900 meter opgespoor. 

Die amptelike ondersoek na die ramp is deur regter Cecil Margo gelei. Die ondersoekspan kon nie vasstel wat die oorsaak van die brand was nie. Dit het gelei tot verskeie samesweringsteorieë wat selfs vandag nog opslae maak.

As 'n toentertydse skakelbeampte by die Suid-Afrikaanse Lugdiens was een van ons inwoners, Alet Erasmus (#120), ten nouste betrokke by die gebeure wat op die ramp gevolg het.

Alet Erasmus
Alet vertel dat sy op 15 Desember 1987 opdrag ontvang het om sonder verwyl 'n vliegtuig na Mauritius te haal. Haar taak op die eiland sou wees om die skakelwerk tussen die Suid-Afrikaanse Lugdiens, die openbare media en die naasbestaandes van die slagoffers te behartig.

"Te midde van al die spanning en hartseer," vertel Alet, " was daar ook enkele ligter oomblikke."

Hulle, die span van die Suid-Afrikaanse Lugdiens en die Amerikaners wat kom help het met die ondersoek na die ramp, het 'n kantoortjie in Port Louis gedeel. Port Louis is die hoofstad van Mauritius. Die maaltye was nie altyd te waffers nie. Hierbenewens het 'n visreuk oor die hawestad gehang wat nie juis bevorderlik vir hulle eetlus was nie.

"Dit was dus 'n heerlike uitkomkans," vervolg sy, "toe die kaptein van die Suid-Afrikaanse Vloot se voorraadskip, Tafelberg, sy helikopter gestuur het om my na die skip te neem om middagete saam met hom te geniet. Hy was baie galant en die kos was uit die boonste rakke. Tog was die helikopterrit die hoogtepunt van die hele operasie!"

Alet het in 1985 'n Sielkunde-honneursgraad aan die indertydse Randse Afrikaanse Universiteit verwerf. Sy het jare lank onderwys gegee. Ten tye van haar aftrede in 2013, was sy 'n Afrikaans-onderwyser aan die Settlers Agricultural High School naby Warmbad.

Sy is sedert 2013 in Warmbad Renaissance woonagtig.

Sunday 6 April 2014

Inwoners getrakteer

Die oord se Sosiale Aksie het die inwoners onlangs op 'n heerlike noenmaal getrakteer.