Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Monday 30 March 2020

Herstel van openbare ruimtes

Die ernstige droogte en munisipale waterbeperkings wat ons sedert 2015 ondervind het, het skade aan ons oord se openbare ruimtes aangerig.

Die bestuurskomitee het op sy vergadering van 30 Januarie 2020 besluit om Philip van den Berg (E34) te benoem as die projekleier om aan die probleem aandag te skenk. Philip is ʼn gerespekteerde omgewingskundige. Gegewe die beskikbaarheid van die nodige fondse, is die bestuurskomitee vol vertroue dat hy en sy span die skade mettertyd sal herstel.

Die eerste fase van die herstelproses, die opgradering van die vierkant voor die administrasiegebou, is pas afgehandel.

Philip is vol lof vir inwoners wat meer plante aangedra het as wat hy kon gebruik. Hierbenewens het tuinliefhebbers telkens hulle hulp en kundigheid aangebied.

Die volgende fase sal eersdaags aandag geniet.

Die foto’s hieronder bied ‘n oorsig van die werksaamhede van die eerste fase van die herstelproses.

Philip (regs) en sy assistent, Moses Mbaya
Werk aan die projek neem 'n aanvang
Anne Sadler was 'n vrywillige helper
Só lyk dit nou

Sunday 29 March 2020

Lokaal opgekikker

Hierdie webjoernaal het al voorheen berig oor die puik diens wat die sosiale aksie-portefeulje aan die oord en sy inwoners lewer. Ons wil weer eens hulde bring aan hierdie groep staatmakers wat bekostigbare funksies reël wat strek van vetkoekverkopings tot deftige dinees.

Alhoewel die funksies nie ʼn winsoogmerk het nie, gebeur dit soms dat ʼn klein wins wél opgelewer word. Oor die jare heen het dit die sosiale aksie-portefeulje in staat gestel om ʼn bederfie of wat ten bate van die oord en inwoners aan te skaf.

Onlangs het die sosiale aksie-portefeulje besluit om hortjiesblindings in die Nes te laat aanbring om aan te sluit by die deftige gordyne wat hulle in 2019 geskenk het. Hierbenewens het hulle voorheen ʼn spoggerige nuwe stoof en yskas aan die oord geskenk.

Welgedaan, sosiale aksie-dames. Só lewer julle ʼn teenprestasie teenoor ons inwoners wat julle funksies so getrou ondersteun.

Op die foto hieronder staan die sameroeper van die sosiale aksie-portefeulje, Edna Cornelius, by een van die hortjiesblindings.



Sunday 1 March 2020

Oord vier skrikkeldag 2020

Ons het skrikkeldag op 29 Februarie met braaivleis en pap en sous en slaai en ‘n dop of twee in die Lapa gevier.

Die foto’s hieronder bied ‘n oorsig van die verrigtinge.

Die vleisies sis gesellig op die kole
V.l.n.r: Rina Steynberg, Linda Grobler, Marietjie van der Merwe, Rita Vosloo en Hester Breet benut die geleentheid om te klets
Vreetsaam op skrikkeldag 2020