Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Saturday 13 July 2019

Welsh Prinsloo

WELSH PRINSLOO (78), wat onlangs sy intrek in E16 ingeneem het, is ʼn Bosvelder in hart en niere. Hy is in Polokwane gebore en het op Mookgopong grootgeword waar hy in 1959 aan die Hoërskool Hans Strydom gematrikuleer het. Ná skool het hy in Suid-Afrika en in die buiteland by Barclays Bank gewerk totdat hy in 2009 as ʼn streekbestuurder afgetree het. Hy het hierna nog vir etlike jare lank vryskutwerk vir die bank en ander instansies gedoen.

Welsh en Loura is in 1967 in Pretoria getroud. Sy het hom in 2007 ontval. Loura was ʼn knap pianis, dosent en later musiekonderwyser wat o.a. in die vroeë sewentigerjare die bekende musieksentrum by die Hoërskool Warmbad van stapel gestuur het.

Twee kinders is uit hulle huwelik gebore. Hulle seun is onlangs oorlede en hulle dogter is ʼn musiekonderwyser in Heidelberg. Sy het twee dogters. Een is ʼn sielkundige wat in Vietnam werk en die ander een is nog op skool. Laasgenoemde is van plan om later in die medisyne te studeer.

Welsh sê dat hy verskeie aftreeoorde oorweeg het nadat hy sy huis in Panoramapark verkoop het. Sy keuse het op ons oord geval omdat dit bekostigbaar is en die wooneenheid aan sy verwagtinge voldoen. 

Friday 12 July 2019

Willy Funchal

Willy Funchal
Die 59-jarige WILLY FUNCHAL (E85) is in Boksburg gebore en getoë, maar woon reeds ʼn geruime tyd lank in Bela-Bela. Hy het onlangs na ons oord verhuis, hoofsaaklik omdat dit hier so mooi, rustig, bekostigbaar en veilig is. Hy woon in E85.

Nadat hy sy skoolopleiding in 1976 aan die Benoni Technical High School voltooi het, het hy twee jaar lank in die argitektuur aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. Daarna was hy ʼn boukontrakteur totdat hy in 2010 afgetree het.

Sy belangstelling in die argitektuur asook sy bedrewenheid in die rekenaartegnologie, het tot gevolg dat hy jare lank al intensief betrokke is by die rekenaargesteunde grafiese ontwerp (computer aided drawing) van geboue.

Ter afwisseling skryf Willy gedigte en e-boeke, en reis graag oorsee. Hy het twee kinders en twee kleinkinders.