Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Tuesday 30 April 2024

Another Goodbye!!

 


Roger Kennard (U117) is also leaving Renaissance after 19 years on Friday, 26 April 2024, and is moving to 'Huis Herfsblaar'. Unfortunately, he could not join us at the Lapa to say goodbye to him, but we wish him all the best in the future.

Ons groet Hennie Stoop (E91)


 


Hennie en sy vrou Nella het na sy 60ste verjaarsdag, in Desember 1998 vanaf die Wesrand (Krugersdorp) in sy eie woorde “jonk, fris, lus en gesond” in Renaissance ingetrek.

Daar was geen beduidenis van ‘n tuin nie. Saam met ‘n handlanger het hulle al die ou sementsakke, platgetrapte verfblikke en klippe opgegrawe. Eiehandig het Hennie die tuin uitgelê en gevestig en tot vandag versorg hy nog self die tuin.

 

Hy was jare lank lid van die Bestuurskomitee en verantwoordelik vir tuindienste. Die BK lede het almal baie lekker saamgewerk. Hulle het om die beurt daagliks die hek vir ‘n uur beman tydens die ruil van die wagte se skofte. Wagte het net 8 ure gewerk.

 

Die oord het oor ‘n Interkomstelsel beskik wat ‘n baie effektiewe kommunikasie kanaal was vir alle inwoners. Noodgevalle, tuin- en instandhoudingsdienste versoeke, alle terugvoer, inligting en kennisgewings het per interkom geskied.

 

Een maal per jaar het Renaissance ‘n stokperdjieskou aangebied, waar inwoners hulle stokperdjies uitgestal en verkoop het. Rusoord, ouetehuise en ander het uitnodigings ontvang. Stokperdjies het naaldwerk, skilderkuns, houtsneewerk en vele ander ingesluit.

 

Vir etlike jare was Hennie ook voorsitter van die veerpyltjies groep en van Warmbad se stapklub, waarby Nylstroom inwoners ingesluit was.

 

Hy het goeie jare hier met vriende gehad, liefde ervaar en ook hartseer beleef met die afsterwe van sy oudste seun in 2005 en 9 jaar later sy vrou. In Julie 2014 was hulle 55 jaar getroud en sterf sy in diselfde maand. “Ek gaan met ‘n swaar hart hier weg na 25 jaar”. Hy trek Kaap toe waar sy dogter woon. Sy gesondheid en veroudering gaan toekomstige ondersteuning en versorging vereis.

 

Hennie vier in Maart sy 86ste verjaarsdag in die Kaap met sy kinders en kleinkinders. Ons wens hom God se seën toe – liefde, genade en Sy Heilige teenwoordigheid.


Almal het op Woensdag 24 April 2024 by die Lapa amptelik van hom afskeid geneem en sy trekkery het op 25 April plaasgevind. Voorspoed en alles wat mooi is ou Hennie Pennie.

Die Voorsitter se skrywe vir die 1ste kwartaal se Nuusbrief!

 Die Voorsitter                        Wessie van der Westhuizen

 

Na die versengende hitte, is ons dankbaar vir die reën wat ons ontvang het. Die droogte het ons weereens gewys hoe afhanklik die natuur van water is. So is die mens ook afhanklik van mekaar. Ek het die volgende geskrewe boodskap gelees en wil dit graag aan u deurgee:

“Ek voel so jammer vir mense wat mekaar nie kan vergewe nie.

Jammer vir mense wat mekaar nie kan verdra nie, vir dié wat neersien op ander.

Jammer vir mense wat dink hulle is beter as ander en hulle so maklik afskryf.

Jammer vir mense wat ander se verlede teen hulle hou.

Jammer vir hulle wat dink iemand se waarde word deur materiële dinge en voorkoms bepaal”.

Ons is hier op aarde om vir mekaar lief te wees, ons is mos immers die beeld van God. Kom ons respekteer mekaar se menswees. God seën u.

 

Met hierdie in gedagte kan ons 2024 en Warmbad Renaissance ʼn vreugdevolle jaar en tuiste maak.

Monday 29 April 2024

5. Kersfees 2023 en Nuwejaar 2024!

 Net so 'n klein kykie op wat nou al 'n paar maande terug gebeur het.

1.Kersfees funksie was weereens 'n groot sukses. Dit spreek uit die feit dat 128 inwoners dit bygewoon het en die kos was uit die boonste rakke!. Dankie aan ons Funksie groep wat soveel moeite doen om dit vir almal so ver moontlik, dit aangenaam te maak.







2. New Year's Braai

Thirty-five residents attended the braai. Sollie made ‘krummelpap’, Esta made the seshebo. It was a pleasant evening.







Saturday 27 April 2024

4. Die kVA storie gaan voort.

 2de Deel van Johann Benadie se kVA verslag

kVA - Hoe word dit gemeet? In ‘n vorige artikel is daar gekyk na wat kVA is. Maar hoe word dit gemeet? Johann Benade kVA is ‘n soort premie wat ons betaal vir die voorreg om altyd voldoende elektrisiteit tot ons beskiking te hê. Wanneer ons sekere gebruikslimiete oorskry, word ons beboet. Wat is die limiete en hoe word die boete bepaal? Die slegte nuus is dat die oomblik wat jy iets in jou huis aanskakel, begin die boete alreeds. Dit is a.g.v. die manier waarop die kVA-meter werk. Daar is nie ‘n minimumlimiet nie en gevolglik sal ons nooit ‘n nul kVA-rekening kry nie. Daar is ook nie ‘n maksimumlimiet nie en gevolglik - “the sky is the limit”. Dink vir ‘n oomblik aan jou kar se spoedmeter wat ook die afstandmeter insluit. Die spoedmeter het ‘n naald wat beweeg soos jy vinniger en stadiger ry. Dit meet koers, nl. km/h. Die afstandmeter toon die afstand aan wat jy gery het , ongeag of jy vinnig of stadig ry, in km. Die een meter dui dus twee verskillende dinge aan, nl. spoed en afstand. Die munisipaliteit se meter, wat Renaissance se elektrisiteitsverbruik meet, werk soortgelyk. Dit meet beide kWh en kVA. Die kWh-meter-gedeelte werk net soos die kWh-meter by elke wooneenheid. Aan die begin van die maand word die lesing geneem en dan weer aan die einde van die maand. Die verskil tussen die twee lesings, is die hoeveelheid elektrisiteit, in kWh, wat jy gedurende die maand gebruik het. Jy kan alles in een dag gebruik, of oor ‘n maand. Die munisipaliteit se kVA-meter werk so: Daar is ‘n elektriese spoel in die meter wat ‘n rooi naald laat beweeg. In die nag, wanneer almal slaap, gebruik ons min krag en die rooi naald beweeg net ’n effens (lae spoed). Wanneer almal opstaan en koffie maak en die geisers aanskakel, wasgoed was en stofsuig, beweeg die rooi naald baie verder (hoë spoed). Daar is egter ook ‘n swart naald - die sg. vlieg in die salf. Die swart naald word deur die rooi naald gestoot. Die swart naald steek vas op die enkele hoogste kVA-lesing wat die rooi naald gedurende die maand mag aandui - al sou die kVA- verbruik en die rooi naald elke nag weer daal. Dit is die boete-snelheid. Die kernbegrip is dat dit ‘n eenmalige gebeurtenis gedurende ‘n betrokke maand is. Dit is dáárdie dag toe té véél inwoners gelyktydig té véél toestelle aangeskakel het, waarskynlik net na ’n kragonderbreking. Dit kan enige dag van die week en enige tyd van die dag gebeur. Nadat die munisipaliteit die lesing van die swart naald aan die einde van die maand geneem het, stel hulle die swart naald weer terug na sero. Daar is ‘n aantal inwoners wat “kragboksies” het wat Eskomkrag gebruik om ‘n battery te laai wat gedurende beurtkrag 230 V wisselstroom kan lewer. Sommige inwoners het groter stelsels wat etlike kW kan lewer. Wanneer die krag na ‘n kragonderbreking weer aanskakel dan begin al hierdie stelsels gelyktydig ook weer om te laai vanaf Eskom. Dit verhoog natuurlik die kVA verbruik en veroorsaak waarskynlik dat ons almal indirek beboet word. Een munisipale meter meet die hele Renaissance se kVA. Al die eenhede se kVA’s word bymekaar getel Renaissance word beboet. Dit differensieer nie tussen inwoners nie. Die kVA aanslag wat Renaissance elke maand van die munisipaliteit ontvang word pro-rata, volgens elke eenheid se kWh-verbruik, toegedeel aan daardie eenheid. Om almal te beskerm hierteen, is die enigste plan dat niemand van ons ooit ‘n hele aantal elektriese toestelle gelyktydig moet aanskakel nie. In motorterme gesê, elkeen moet gedurig so stadig as moontlik ry. Vergelyk dit met Renaissance se bussie wat elke dag Pretoria toe ry, maar elke dag met ‘n ander bestuurder. Party jaag en ander ry rustig. Aan die einde van die maand kry Renaissance al die boetekaartjies saam as een groot boete en al die inwoners moet help betaal aan die boete, ongeag wie die sondebokke is. Inwoners kla dikwels dat hulle kVA-aanslag van maand tot maand varieer, al was hulle kWh verbruik redelik konstant oor maande. Dit is omdat die totale kVA van Renaissance van maand tot maand varieer weens verskeie faktore wat van huis tot huis en maand tot maand wissel. Beurtkrag is een van die faktore en hoe hoër die fase - hoe groter die impak. Daar is opsies wat ons kan aanwend om minder kVA te gebruik, maar dit veroorsaak ongerief. Onthou julle in die jare tagtig met die brandstoftekort toe ons teen 80 km/h moes Kaap of Durban toe ry vir die skoolvakansie en nie snags en oor naweke brandstof kon koop nie? Die ongeluksyfers op die paaie was ook baie laer. Ons het lewens, brandstof en geld gespaar. ‘n Nuwe probleem is ‘n tekort aan water en baie inwoners het ‘n eie noodwatertenk met ‘n klein pompie aangeskaf. Dit werk soos die kragboksies hierbo genoem. By die een laai die batterye wanneer Eskom krag verskaf en die ander tap vol wanneer daar munisipale water is. Beide is slegs oorbruggingstelsels en help jou uit in ’n noodgeval (soos ’n noodwiel). Dink bietjie hieroor na : Na ‘n kragonderbreking skakel al die pompies en al die kragboksies en sowat 200 ys- en vrieskaste almal gelyktydig aan. Plus ‘n klomp geisers, ketels, mikrogolfoonde en selfs lugversorgers. Ons jaag gevolglik deur die kVA-snelstrik. Soos dit ‘n uitgeslape verkeersman betaam, wag hy vir dáárdie dag wat ons die vinnigste ry en vang ons in sy kVA-strik. Een van Murphy se wette. Volgende keer gesels oor noodwaterstelsels in ons Oord. 

2. Nuwe webblad

 Na ons vorige webblad nooit deur die gasheer onderhou was nie, het die hele ding tot niet gegaan. Na vele rond vraery het ons van Caricke gehoor. Dit is 'n dame wat op Droogekloof bly en feitlik al die besighede wat in die dorp 'n webblad het, gehelp het. Sy het ingestem en na 'n paar maande se wroeg om alles in plek te kry, is ons nou weer op die lug. 

Ons is te dankbaar dat die publiek daar buite weer van ons Oord kan kennis neem. 

Dus, welkom terug aan almal wat ons nuus opvolg en enige kommentaar hetsy goed of sleg sal waardeer word.

1. Agterstand word ingehaal

 

Gedurende die tydperk Desember 2023 en April 2024 was daar doodse stilte op hierdie front. Nie omdat daar nie nuus was nie maar tegnologie boikot of kniehalter 'n mens soms.

"n Skamele poging gaan nou aangewend word om op te maak. As van die nuus ou nuus is, ekskuus,
maar ek moet iewers begin en dit is partykeer moeilik om in die verlede rond te krap sonder om dinge te herhaal.





Friday 26 April 2024

3. kVA kwessie

 Uittreksel uit die 4de kwartaal se nuusbrief

Van iemand af wat weet waaroor ons inwoners bekommerd is en nie verstaan! Dankie Johann

kVA  -  Wat is dit ?                                                                     

Op ons maandelikse state wat ons vanaf Renaissance ontvang, is daar twee inskrywings wat betrekking het op elektrisiteit, kWh en kVA.

kWh verwys na die totale hoeveelheid elektrisiteit wat jy gedurende ‘n bepaalde  maand verbruik.

kVA verwys na die maksimum tempo waarteen  jy elektrisiteit gedurende ‘n bepaalde tydperk verbruik het. Hierdie tydperk kan van korte duur wees soos ‘n uur of so. kVA kan  gesien word as ‘n soort boete wat gehef word vir ’n te hoë tempo van verbruik. Dis soos om met jou motor deur ‘n snelstrik te jaag. Hoe vinniger jy op daardie stadium gery het, hoe hoër is die boete - ongeag of jy net na Pretoria of dalk na Kaapstad toe oppad was.

Hier is  twee scenarios.

Scenario A

Jy bak op Maandag ‘n koek in die oond, Dinsdag kook jy ‘n pot sop op die stoof, Woensdag besluit jy om te stort en skakel die geiser aan, Donderdag stofsuig jy al die matte in jou huis, Vrydag was jy wasgoed in jou wasmasjien en tuimeldroog dit daarna en Saterdag stryk jy al die wasgoed. Jy het dus elke dag een of ander elektriese toestel in jou huis vir ‘n tydlank gebruik. Daardie verbruik word as kWh op die meter langs jou huis geregistreer.

Scenario B

Die volgende week hoor jy dat iemand kom vir ‘n paar dae kuier en jy moet noodgedwonge  ál die takies wat jy die vorige week oor ses dae uitgevoer het, nou  sommer in één dag afhandel. Aan die einde van daardie dag het jy net soveel krag as in scenario A verbruik, so die kWh is dieselfde. Maar hierdie keer het jy al daardie krag in net één dag gebruik, m.a.w. die tempo van krag-verbruik  was in scenario B baie hoër as in scenario A. Dit word gemeet in kVA.

So, wat maak dit saak of ek al die krag in een dag of oor ses dae gebruik? Dis mos dieselfde hoeveelheid krag!

Gestel jy gebruik  jou eie generator om elektrisiteit op te wek. In scenario A gebruik jy min krag op ‘n bepaalde tydstip en ‘n klein generator sal voldoende wees. Jy kan dit selfs afskakel van tyd tot tyd. In scenario B gebruik jy baie meer krag op ‘n bepaalde tydstip want jy het die geiser, die oond, die stoof en die wasmasjien dalk alles gelyktydig aan.  Jy sal dus ‘n baie groter generator benodig en dit sal heeldag aangeskakel moet  wees. Wanneer die kuiergaste weer weg is, sal ‘n klein generator weer voldoende wees, maar jy moes  noodgedwonge  ‘n groter een koop vir tye soos wanneer jy gaste kry. Meeste van die tyd werk die groot generator egter nou  halfstoom want dit is eintlik té groot . Jy moes egter die kapitale uitleg maak vir die groter generator wat jy net soms gebruik. Dis onproduktief en onekonomies.

Eskom is in dieselfde bootjie. Hulle moet groot kragstasies en groot netwerke en baie mense hê om elektrisiteit te enige tyd en oral  te verskaf wanneer  huishoudings én fabrieke dit benodig, dag of nag.  Snags en oor naweke en vakansies sluit baie  fabrieke en die kragverbruik verminder drasties, maar al die kragstasies en netwerke en mense is steeds daar en dit kos deurlopend geld. Omdat die verbruik dan laer is, is Eskom se inkomste uit die verkoop van elektrisiteit ook laer, dit is weereens  onproduktief en onekonomies - maar dis nodig.  Sien kVA dus as ‘n soort versekering met ‘n gereelde premie  wat ons betaal vir die gerief om altyd voldoende elektrisiteit te hê. (Knyp maar vir eers jou oë toe vir beurtkrag)

Renaissance koop grootmaat elektrisiteit aan van die munisipaliteit. Dit word gelewer teen 11 000 Volt, 3-fase. Ons skakel dit om na 230 Volt, 1-fase, en versprei dit dan na elke wooneenheid. Die rekening vir grootmaat elektrisiteit, soos aan Renaissance en fabrieke gelewer,  bestaan ook  uit kWh- en kVA- komponente. Grootmaat elektrisiteit, ten spyte van die kVA-heffing, is steeds  goedkoper as die elektrisiteit wat aan die dorpsmense verskaf word teen net kWh-tarief. Grootmaataankope is altyd goedkoper per eenheid, soos bv. grootmaat melk,  grootmaat toiletpapier en grootmaat mieliemeel.

Die kVA-rekening vanaf die munisipaliteit word pro-rata volgens elkeen se kWh-verbruik onder inwoners verdeel. Dit varieer dus maandeliks. Al is Renaissance se kWh-rekening die volgende maand dieselfde as die vorige maand, sal die kVA-rekening nogtans  verskil, omdat die tempo van verbruik van dag tot dag en uur tot uur en selfs minuut tot minuut, varieer. Jy ry nie altyd dieselfde spoed wanneer jy deur die snelstrik ry nie en gevolglik varieer die boete ook. Hierdie boete word pro-rata onder inwoners verdeel en wys as jou kVA-aanslag.

Volgende keer kyk ons na hoe die snelstrik werk en of ons dit dalk kan omseil - of minstens die boete kan verlaag. 😊

 Johann Benade