Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Monday 28 October 2019

Die Waterberg - Fauna

Ná die onlangse inleidende artikel oor die Waterberg (klik op https://renaissancebushveldliving.blogspot.com/2019/09/die-waterberg-inleiding.html) om toegang daartoe te verkry)  kom die fauna (dieresoorte) wat in die streek aangetref word in hierdie artikel ter sprake. 

Alhoewel ʼn verskeidenheid bronne geraadpleeg is, is ons hoofbron die uitstekende webtuiste met teks, kaarte, fotos, ens. wat deur Warwick en Marlene Tarboton van Modimolle behartig word. Die titel daarvan is Waterberg BioQuest/BioSoektog.

Dis onmoontlik om binne die bestek van hierdie kort artikel reg te laat geskied aan die verstommende diversiteit van die fauna wat in die Waterberg aangetref word. Om maar enkeles te noem: 340 voëlspesies vind ʼn permanente tuiste in die streek, 157 soogdierspesies is reeds gelys, 120 reptielspesies word aangetref, 27 paddaspesies vorm ʼn melodieuse paddakoor, sowat 206 vlinderspesies fladder die Waterberg vol, ens.

Alhoewel ons uiteraard huiwerig is om enkele faunaspesies uit te sonder, is die fokus wat hierin hoofsaaklik op die kleinvolk geplaas word hopelik verskoonbaar.

Die statige bloukraanvoël is ʼn “grondlopende, eiesoortige blougrys voël met lang pote, ʼn dik kop met ʼwit kroon, ʼpienk bek en lang vlerkpluime wat soos ʼn stert lyk en wat feitlik tot op die grond strek.” Omdat die voël ʼn bedreigde spesie is, word dit deur wetgewing beskerm.

Die statige bloukraanvoël (Foto: Mich Veldman)
Daar bestaan talle wanopvattings oor spinnekoppe. Hulle is egter merkwaardige en interessante diertjies en meesal skadeloos vir mense. Hulle speel ʼn uiters belangrike rol in die natuur en in die landbouomgewing.

Die termietvreterspinnekop (Foto: Pieter Webb)
Een van ons inwoners, Philip van den Berg (E34), is ʼn wildlewefotograaf van formaat. Foto’s van oulike soogdiere noem hy “ag shame”-foto’s. Ons is die mening toegedaan dat die onderstaande foto vierkantig in daardie kategorie val!

Die klipklaasneus (Foto: Warwick Tarboton)
Die gorrelskurwepadda (foto onder) is 8 – 10 cm lank, sandbruin of grys met ʼn knopperige vel. Daar is ook rooi vlekke aan die dye.

Foto: Francis Bacon 

Wednesday 2 October 2019

Oord verwelkom die Saundersons


Koos en Ina Saunderson
Koos (63) en Ina (59) Saunderson ken mekaar reeds van kindsbeen af. Hulle is in 1977 getroud en het vier kinders en tien kleinkinders.

Koos is in Polokwane gebore waar hy sy skoolloopbaan in 1973 aan die Hoërskool Tom Naudé voltooi het. Hierna het hy ʼn vakleerlingskap in vliegtuigplaatmetaalwerk by die Atlasvliegtuigkorporasie (tans Denel) voltooi. Hy het in 2017 uitgetree as die hoofinspekteur van vliegtuigonderdele by Aerosud Aviation, ʼn lugvaartingenieurs- en vervaardigingsmaatskappy naby Pretoria.

Ina is in Pomfret gebore en het in Bloemhof grootgeword waar sy haar skoolloopbaan aan die plaaslike hoërskool voltooi het. Hierna het sy verpleegopleiding aan die provinsiale hospital op Wolmaransstad ontvang en mettertyd gevorder tot die posisie van stafverpleegster.

Nadat hulle amptelik pensioentrekkers geword het, het hulle verskeie aftreeoorde oorweeg voordat hulle E44 in ons oord gekoop het. Hulle is baie ingenome met hul keuse, want hulle wooneenheid is gerieflik en die oord se veiligheidsmaatreëls is baie goed.