Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Monday 30 December 2019

Die Waterberg: Twee ikone

Hierdie laaste artikeltjie oor die Waterberg beskryf twee van die ikoniese persoonlikhede wat die streek oor die jare heen opgelewer het, te wete adv. J G Strijdom en Eugène Marais.

Adv. J G Strijdom
Johannes Gerhardus (Hans) Strijdom is op 14 Julie 1893 op Klipfontein, distrik Willowmore, gebore. Hy het later in die regte aan die Universiteite van Stellenbosch en Pretoria gestudeer voordat hy as prokureur op Nylstroom (Modimolle) begin praktiseer het.

In 1918 het adv. Strijdom afdelingsekretaris van die Nasionale Party in die Waterberg geword en het die kiesafdeling vanaf 1929 tot 1958 ononderbroke in die parlement verteenwoordig. Die rigsnoer van sy politieke denke was die verhouding tussen Afrikaans- en Engelssprekendes, die taalregte van die Afrikaner, die baasskap van die Blanke in eie gebied en die ekonomiese selfstandigheid van Suid-Afrika. Dit alles moes lei na een einddoel: die Republiek van Suid-Afrika. Hy was van 1954 tot sy afsterwe in 1958, die premier van die Unie van Suid-Afrika.

Buiten die politiek het hy sy liefde vir boerdery uitgeleef op die plaas Elsjeskraal op die Springbokvlakte en later op die plaas Sandvlakte naby Bela-Bela waar hy saam met sy broer geboer het.

Strijdom was getroud met Susan (née de Klerk). ʼn Seun en dogter is uit hulle huwelik gebore.

Hulle huis op Modimolle is vandag ʼn museum en die Hoërskool Hans Strijdom op Mookophong is na hom vernoem. Terloops, Skye Bester, Pieter en Ria Bester (E107) se kleindogter, was in 2019 die hoofmeisie van hierdie skool.

Eugène N Marais
Eugène Nielen Marais is op 9 Januarie 1871 in Pretoria gebore. Hy het in 1907 na die Waterberg verhuis waar hy o.a. op die plaas Rietfontein geloseer het. Dié faset van sy lewe is die onderwerp van die rolprent Die wonderwerker wat in 2012 op Suid-Afrikaanse televisie vertoon is.

Marais was ʼn veelsydige, dog komplekse persoon. Hy was ʼn digter, joernalis, advokaat, hipnotiseur, mediese dokter en natuurkundige.

Op Rietfontein doen hy indringend navorsing oor die gedrag van wilde diere, waaronder bobbejane en miere in hulle natuurlike habitat. Hierdie navorsing het later gelei tot die publikasie van die opsienbare Die siel van die mier (1934) en The soul of the ape (1969).

Maar dit is waarskynlik as digter waarvoor Marais die langste onthou sal word. Hy was die skepper van die klassieke Afrikaanse gedig Winternag, wat allerweë beskou word as die begin van die letterkundige poësie in Afrikaans.

"Winternag" - in die digter se eie handskrif
Marais het op 21 jarige ouderdom begin om morfien te gebruik en sy lewe is gekenmerk deur 'n verbete stryd teen verslawing. Op 29 Maart 1936 het hy selfdood gepleeg.

Friday 27 December 2019

Wanneer dit reën in die Bosveld

Wanneer dit reën op Rietfontein
En deur die stof ‘n straal van groen verskyn,
Wanneer die wolke, swart en swaar belaai,
In voue oor die berge pak en swaai,
Dan sit oom Gysbert op die stoep alleen;
Hy asem sag die geur gemeng van stof en reën
En as jy net sy kalm gelaat bespreur,
Sou jy nooit dink iets wonderliks gebeur –
Dat daar ‘n jaar van knagend’ angs verdwyn,
Wanneer dit reën op Rietfontein.

    Hierbo is ʼn uittreksel uit Wanneer dit reën op Rietfontein, deur Eugéne Marais.

Eugene Marais, waarskynlik terwyl hy op Rietfontein in die Waterberg gewoon het

Alhoewel ons dit nie bo alle twyfel kon vasstel nie, het Marais dié gedig waarskynlik geskryf terwyl hy op uitnodiging van Gys en Maria van Rooyen tussen 1908 en 1916 op hulle plaas Rietfontein in die Waterberg gewoon het. Die Waterberg is as 't ware op ons voorstoep geleë.

Dié gediggie herinner sterk aan ons eie inwoners se dankbare erkentlikheid teenoor ons Hemelse Vader vir die milde reënbuie wat in die onlangse verlede in ons oord neergestuif het.

Volgens Neels Cornelius (E118) wat elke lewegewende reëndruppel nougeset aanteken, het hy meer as 350 mm sedert die aanvang van ons ietwat ongewone reënseisoen gemeet en opgeskryf.

Berigte dui daarop dat die vlak van plaaslike damme reeds noemenswaardig gestyg het. Nóg goeie nuus is dat die munisipale waterbeperkings wat reeds in 2015 ingestel is, onlangs opgehef  is - aldus Andries van der Heyde, ʼn joernalis wat verbonde is aan die plaaslike Pos-koerant.

Friday 6 December 2019

Oord verwelkom Ria Nel

Ria Nel

Ria Nel (66) het onlangs haar intrek in E74 geneem. Sy sê dat haar keuse op hierdie eenheid geval het nadat sy omvattend navorsing gedoen het oor aftreeoorde oral in die land. Ons webtuiste het geen geringe rol in haar besluit gespeel nie. Sy is heel in haar noppies met ons oord omdat dit grootliks aan haar behoeftes voldoen. Sy is voornemens om gou by oordaktiwiteite betrokke te raak.

Ria is in Barberton gebore en getoë. Sy het in 1971 haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Barberton voltooi. Hierna het sy die Hugenote Kollege op Wellington bygewoon waar sy in 1974 in die geesteswetenskappe gekwalifiseer het.

Sedert 1975 tot haar uittrede in 2015 was sy betrokke by die ontwikkeling van menslike potensiaal.

Na haar uittrede, verrig sy deeltydse werk ten einde aan haar voorliefde vir die natuur, reis, buitelugaktiwiteite en ander belangstellings voorkeur te gee.

Tuesday 3 December 2019

Die Waterberg - Flora

Ná verlede maand se artikel oor die fauna wat in die Waterberg aangetref word, kom die streek se flora (plantlewe) vandeesmaand ter sprake.

Alhoewel ʼn verskeidenheid bronne geraadpleeg is, is ons hoofbron die uitstekende webtuiste met teks, kaarte, foto’s, ens. wat deur Warwick en Marlene Tarboton van Modimolle behartig word. Die titel daarvan is Waterberg BioQuest/BioSoektog.

Dis onmoontlik om binne die bestek van hierdie kort artikel reg te laat geskied aan die verstommende diversiteit van die flora wat in die Waterberg aangetref word, veral as daar in ag geneem word dat 271 boomspesies en  meer as 1000 spesies wildeblomme reeds aangeteken is. Weens die ontsaglike verskeidenheid kan ons uiteraard die fokus op slegs enkele plantsoorte plaas.

Terloops, ons is heel opgetoë oor die bekoorlike Afrikaanse benamings van sommige flora. Wat val nou mooier op die oor as boomname soos tontelhout, kierieklapper, raasblaar en huilboerboon of wildeblomname soos katpisbossie, mooinooientjie, poprosie en haaskos?

Alhoewel die kransaalwyn inheems aan die Waterberg is, kom dit wydverspreid in  Suid-Afrika voor en is gewild as ʼn tuinplant. Die bitter sap van die blare is vroeër net deur inheemse mense gebruik om ʼn verskeidenheid kwale te genees. Volgens een van Kwêvoël se bronne het die sap na die Tweede Wêreldoorlog ʼn rol gespeel in die behandeling van Japannese atoombomslagoffers.

Die kransaalwyn (Foto: Warwick Tarboton)
Die nektar van die bitterbos is vir skoenlappers onweerstaanbaar. Dié plant word deur inheemse mense as medisyne gebruik. Hulle droog die blom ook uit, maal dit fyn en gebruik dit as lekkerruikbabapoeier.

Die bitterbos (Foto: Onbekend)
Die poerabessie waarvan ten minste een in ons oord voorkom, dra onwelriekende  dog eetbare bessies. Inheemse mense maak ʼn spinasie-agtige dis van die jong blare.

Die poerabessie (Foto: Barry Vosloo)
Die Suurpruimboom word ongeveer 10 m hoog en dra eetbare vrugte waarvan rooswyn en jellie gemaak kan word. Dit lok ook vrugtevretende voëls soos loeries, tiptolle, spreeus ens. Die wildepruim is gewild by bonsai-geesdriftiges.

Die suurpruimboom (Foto: Onbekend)