Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Sunday 19 June 2016

Borries en Anda kies Warmbad Renaissance

Alhoewel oud-onderwysers Borries (71) en Anda (69) Bornman reeds 24 jaar lank in Warmbad woon, het hulle onlangs eers na ons oord verhuis en in E112 ingetrek.

Friday 17 June 2016

Sop-en-sjerrie-aand

Op 15 Junie het die oord se sosiale aksie ‘n sop-en-sjerrie-aand aangebied. Die doel daarvan was enersyds om inwoners die geleentheid te bied om sosiaal te verkeer en andersyds om die winterkoue 'n wyle te verdryf. Hiervoor het die sjerrie nogal gehelp!

Die foto’s hieronder bied ‘n kort oorsig van die geleentheid

Die broodtafel was oudergewoonte 'n wenner. Hier help Linda Benade, Frensia van Wyk en Koos Grobler hulle aan pot- en tuisgebakte boord, plaasbotter en 'n verskeidenheid konfyte.
Hierbo verskyn 'n aantal besoekers as gaste van Johann en Linda Benade.
Ná die ete en drinke moet die vuil skottelgoed gewas word. Hier verrig John Scheepers en Linkie Ellis dié taak.

Friday 10 June 2016

Mesothelioma Centre

TYLER HEATH from the Mesothelioma Centre, writes:  I came across your site while looking for organizations to reach out to about mesothelioma and asbestos exposure. Due to the long latency period of mesothelioma, approximately 20-50 years, about 80 percent of those who are diagnosed with this terrible disease are seniors. Our organization works with these individuals and their families to help them find local doctors, treatment centers and support groups. Contact us at Asbestos.com.


Ver paaie kruis soms onder verrassende omstandighede

Inwoners Karl Fechner (81), Walter Oberholzer (80) en Louis van Wyk (81) kan verskoon word as hulle hulle soms verwonder oor hoe die ver paaie wat al drie gestap het, toevallig gekruis het.
 
V.l.n.r. verskyn Louis van Wyk, Walter Oberholzer en Karl Fechner
Karl is vóór die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog in Breslau, toentertyd in Oos-Duitsland, gebore. Nadat hy sy skoolopleiding voltooi het, het hy ‘n gereedskapmaker geword en op 29-jarige ouderdom in Suid-Afrika kom werk.

Walter is in Boksburg gebore, maar het sy skoolopleiding aan die hoërskool op Swartruggens voltooi waar hy en Louis mekaar leer ken het. Na skool het hy óók ‘n gereedskapmaker geword.

Louis (tans woonagtig in Die Palms Renaissance) is in die distrik Roodepoort gebore. Toe hy nog klein was, het die gesin na Chingola, in die toentertydse Noord-Rhodesië, verhuis. Hy het later sy skoolopleiding aan die hoërskool op Swartruggens voltooi en hom vervolgens as ‘n patroonmaker bekwaam.

Dié drie se ver paaie het vervolgens gekruis toe hulle jare later toevallig by Circuit Breaker Industries op Elandsfontein werksaam was. Carl was ‘n gereedskapmaker, Walter ‘n kwaliteitsbestuurder en Louis het elektrisiteitstroombrekers gebou.

Hulle het mettertyd afgetree. Heelwat later het al drie afsonderlik besluit om na Warmbad Renaissance te verhuis; Louis in 1995, Walter in 2001 en Carl in 2004.

So het die ver paaie wat dié drie gevolg het, uiteindelik weer hier in ons oord gekruis.

Wednesday 8 June 2016

Oud-inwoners wens ons geluk met die viering van ons 25ste bestaansjaar


GEORGE EN MARIE MEINTJIES van Die Palms Renaissance skryf: Baie geluk met die viering van die 25-jarige bestaan van Warmbad Renaissance. Mag u van krag tot krag gaan met ‘n klompie gelukkige inwoners en ‘n woonplek waar elke inwoner sy/haar plig sal nakom. As oud-inwoners wens ons u alles van die beste toe.

Oud-inwoners George en Marie Meintjies

Ons woon nou al 10 jaar lank in Die Palms Renaissance. Kan maar net nie wegkom van ons ou vriende Werner en Reanett nie! 

Ons het die voorreg gehad om vir bykans 13 gelukkige jare in Warmbad Renaissance E82, net agter die hoofgebou, te woon. 

Ek [Marie] was bevoorreg om ‘n tyd lank in die bestuurskomitee te dien en was verantwoordelik vir die nuusbrief. Ek onthou dat oom PK Minnaar my gereeld kom besoek het om sy bydrae vir die nuusbrief persoonlik te oorhandig. Ek het met, onder andere, met Henry van Nieuwenhuizen, Nato Britz, Tom Vaughan, Ampie Hattingh, Lebaux Jordaan, Roy Derbyshire, Jan van Blerk, Koos Franken, Hennie van der Merwe en Toon Botes saamgewerk.