Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Friday 15 November 2013

Vaardige Fietjie

Die Renaissance Aftree-oord op Bela Bela wemel van talentvolle mense. Fietjie Moolman, 'n oud-onderwyseres, is een van diegene wie se hande vir min verkeerd staan.

Sy en haar wederhelfte, Jurie, woon in eenheid 55. Jurie is in die voormalige Rhodesië gebore en getoë. Nadat dié land in 1980 Zimbabwe geword het, het hy na Suid-Afrika uitgewyk. Hy en Fietjie het mettertyd ontmoet en in die huwelik getree.

Fietjie en Jurie Moolman
Fietjie skryf: "Nadat ek en Jurie getroud is, was dit nie meer vir my nodig om te werk nie. Omdat ek nie die geaardheid het om ledig te wees nie, het ek by die Vroue Landbou-unie (VLU) aangesluit."

"Ek hou van 'n uitdaging," vervolg sy, "en daarom het ek aan talle VLU-kompetisies deelgeneem."

Sy het na vyftien jaar afgeskaal en spits haar tans toe op foto-plakkuns (scrapbooking), mosaïek- en hekelwerk.

"Foto-plakkuns interesseer my die meeste," skryf Fietjie. "Dit is 'n aktiwiteit wat herinneringe lewendig hou en ook 'n metode om familiegeskiedenis te bewaar. Foto's, joernaalinskrywings en kunswerk word saamgevoeg sodat elke boek uiteindelik uniek is."

Scrapbooking is 'n manier om familiegeskiedenis te bewaar.
"Maar dis boweal 'n heerlike tydverdryf," skryf sy verder. "Hegte vriendskappe word gesmee wanneer vroue wat in dieselfde dinge belang stel, vergader."

Fietjie is besonder trots op die twaalf boeke wat sy al voltooi het. Sy beskou dit as erfstukke.

Erfstukke.
Haar belangstelling in mosaïekwerk het eweneens voortgespruit uit 'n artikel wat sy vir 'n VLU-kompetisie gemaak het. Dit het uitgeloop op mosaïekwerk op vele voorwerpe: bakstene, wynbottels en selfs Ouma se koos!

Mosaïekwerk kan op bykans enige voorwerp aangebring word.
Sy geniet ook hekelwerk, veral in die winter. Daarom was sy baie ingenome dat 'n kniekombers vanjaar 'n kompetisie-artikel was.

Gehekelde kniekombers


2 comments:

  1. Dit is fantasties om te sien dat mams dit daar in Bela-Bela geniet en soos altyd nog al die mooi goed maak!!!!

    ReplyDelete
  2. This comment has been removed by the author.

    ReplyDelete