Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Sunday 12 October 2014

Voormalige plaasseun beoefen Japannese kunsvorm

Bonsai is 'n Japannese kunsvorm wat verwys na miniatuurboompies wat in 'n houer groei. Hierdie tradisie is meer as 'n duisend jaar oud en word oral ter wêreld beoefen, ook in Suid-Afrika.

Vir afgetrede skoolhoof Dries Engelbrecht (Eenheid 132) is bonsai 'n liefhebbery waarvoor die saadjie waarskynlik in sy kinderdae geplant is toe hy in Tolwe in die verre noordelike  uithoek van Limpopo die veld as enigste speelplek geken het. Daar het hy natuurlikerwys 'n verknogtheid aan en grondige kennis van die Bosveld, sy dierelewe en plantegroei ontwikkel.

Dries se heimat
Die bonsai-gogga het hom sowat twintig jaar gelede in Brakpan gebyt toe hy 'n vriend vergesel het het na 'n vergadering van die plaaslike bonsai-vereniging.

"Bonsai," vertel Dries geesdriftig, "kan geskep word van bykans enige meerjarige boom of struik. Die plant word in 'n houer gekweek. Nadat die boom of struik 'n ent gegroei het word die takke en wortels gesnoei om die  groei te bedwing. Uiteindelik word die vorm van volwasse volgrootte bome nageboots."

Dries snoei 'n witapiesdoring-bonsai
Dries spits hom uitsluitlik toe op bome en struike wat endemies aan die Bosveld is. Die oudste bonsai in sy versameling is 'n 40-jarige keiappel.

Hierdie keiappel-bonsai is 40 jaar oud en die oudste in Dries se versameling

No comments:

Post a Comment