Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Thursday 9 October 2014

Die dierelewe in ons oord

Piet Combrink (Eenheid 6) skryf: "Hoe gelukkig is ons nie om nog dierelewe in ons oord aan te tref nie!"

Piet Combrink
Piet is 'n afgetrede wildboer en 'n natuurkenner by uitnemendheid. Hierbenewens is hy 'n ywerige fotograaf. Hy het die foto's op hierdie blad en die meeste van die inligting voorsien.

Die bosveldvisvanger


Die bosveldvisvanger (Halcyon senegalensis)  is 'n algemene somerstandvoël wat in die Limpopo Provinsie voorkom. Dis 'n bos- en boomlandspesie wat ook gereeld in tuine en parke voorkom. Die Bosveldvisvanger sit stil op 'n uitkykplek en vang dan insekte op die grond. Sy roep is 'n luide  "trrp-trrrrrrr" met die laaste gedeelte uitgerek en dalend.

Die rooibekkakelaar


Die rooibekkakelaar (Phoeniculus purpureus) is 'n algemene standvoël in die Limpopo. Sy roep bestaan uit 'n hoë gekekkel wat deur een voël begin word. Die ander val dan in en 'n wanklinkende warboel van histeriese laggeluide ontstaan. Hulle kom in groepies van van drie tot agt in boomveld en boomryke voorstedelike tuine voor. Hulle vlieg streep-streep van boom tot boom en land laag teen die stam, vanwaar hulle boontoe klouter en dan na die volgende boom vlieg. Hulle steek hulle snawels in barste en krakies en agter los bas in op soek na insekte. Dooie takke is dus ideale weiplekke vir hulle.

Die rooiborsduifie


Die rooiborsduifie (Streptopelia senegalencis) is 'n volop standvoël in Suidelike Afrika en kom algemeen in voorstedelike tuine voor.

Die foto toon 'n wit rooiborsduifie. Sy kleur is heelwaarskynlik die gevolg van 'n genetiese afwyking, soortgelyk aan die swart rooibok en wit springbok.

"Dis die enigste wit rooiborsduifie wat ek al ooit gesien het," skryf Piet, "en het lank hier by ons eenheid rondgekuier, maar die afgelope tyd sien ons hom nie meer nie.

Die verkleurmannetjie


Die benaming verkleurmannetjie het hierdie diertjie te danke aan sy vermoë om van kleur te verander. Sy ruwe vel is dikwels ’n dowwe bruingroen, maar die kleur kan verander wanneer hy skrik of honger of op veranderings in die lig, temperatuur en ander dinge in sy omgewing reageer. Sulke kleurveranderings wissel van subtiele verskuiwings in skakerings van bruin tot ’n merkwaardige samespel van groen, blou, oranje en selfs ultraviolet kleure wat nie deur die menslike oog waargeneem kan word nie.

Die kleurverandering word veroorsaak deur hormone wat spesiale pigment-houdende selle in die trapsuutjies se vel affekteer. Al hierdie pigmentselle kan hul pigmente vinnig verplaas, wat dan die kleur van die verkleurmannetjie beïnvloed. Maar sy kleur verander nie altyd om by sy omgewing aan te pas, soos algemeen geglo word nie.

Sedert Oktober 2013 het hierdie webjoernaal artikels geplaas wat handel oor verskeie ander diere wat in die oord aangetref word. Indien jy daarin belang stel, klik gerus op die naam van die dier hieronder waaroor jy meer te wete wil kom:

Gebande muishond, blousysie, bloukopkoggelmander, kuifkophoutkapper, kwêvoël, tiptol, nagapie, rooibeklyster, kaalwangvalk en pylvlekkatlagter

No comments:

Post a Comment