Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Wednesday 8 October 2014

'n Geliefde inwoner

Die Franse verwys na 'n hoogs gerespekteerde bejaarde vrou as 'n grande dame.

Die 78-jarige Rina Breytenbach wat in Eenheid 118 woonagtig is, word met groot agting in die Oord bejeën. Inwoners ken en waardeer haar as 'n verfynde vrou wat baie empatie met haar medemens het.
 
Sy is inderdaad die grande dame van Warmbad Renaissance.
 
Rina Breytenbach
Rina is op Witrivier gebore en het op 'n plaas tussen Witrivier en Nelspruit grootgeword. Nadat sy aan die Hoërskool Belfast gematrikuleer het, het sy die Laer-Onderwysdiploma aan die Normaalkollege Pretoria verwerf.
 
Haar eerste onderwyspos was op Sabie. Hier het sy vir Piet Breytenbach, 'n kollega, ontmoet. Kort voor lank het 'n romanse tussen hulle ontstaan en is hulle in 1958 op Witrivier getroud.
 
Rina en Piet op hulle troudag
Twee kinders is uit die huwelik gebore. Hulle seun, Johan, woon in Pretoria en Annalie is met Willie Dykema getroud. Hulle boer in die Settlers-omgewing. Vier kleinkinders voltooi haar familie.
 
Later het Rina en Piet na Potgietersrus verhuis.
 
Die Breytenbachs was voor Piet se dood, 42 jaar lank alombekend in die toentertydse Noord-Transvaal. Piet was 'n geliefde skoolhoof en gemeenskapsleier op Potgietersrus en Polokwane. Nie alleen was hy 'n rugbyman in hart en niere en dus ten nouste betrokke by skolerugby nie, hy was ook 18 jaar lank 'n stadsraadslid en onderburgemeester op Potgietersrus.
 
Rina was saam met hom nou betrokke by diens aan die gemeenskap. Sy het ook haar liefde vir tuinmaak uitgeleef en was aktief betrokke by die plaaslike tuinbouvereniging. Hul tuin en sypaadjie het drie keer toekennings van die Sakekamer ontvang. Hierbenewens het hierdie veelsydige vrou verskeie kursusse in blommerangskikking voltooi.
 
Na sewe jaar het Rina uit die onderwys bedank om 'n administratiewe pos by die provinsiale hospitaal op Potgietersrus en later 'n betrekking by 'n plaaslike prokureursfirma te aanvaar.
 
Rita en Piet kort na sy aftrede
Rina en Piet het in 1994 na Warmbad Renaissance verhuis nadat hulle afgetree het. As geesdriftige tuiniers het hulle die omgewing van hulle eenheid gou omskep in 'n netjiese tuin.
 
Rina en Piet se pragtige tuin
"Ek koester mooi herinneringe aan my lewe saam met Piet," sê Rina. "Hy is drie jaar gelede aan Altzheimer se siekte oorlede. Ek waardeer die liefde en begrip waarmee die inwoners van Renaissance my ondersteun het."

No comments:

Post a Comment