Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Saturday 28 September 2019

Die Waterberg - Inleiding

Vroeër vanjaar het hierdie webjoernaal ’n reeks artikels geplaas oor aspekte van die geskiedenis van ons dorp. In die volgende reeks span ons die net wyer ten einde ons groter omgewing onder die loep te neem: die Waterberg.

Alhoewel ʼn verskeidenheid bronne uiteraard geraadpleeg sal word, is ons hoofbron die uitstekende webtuiste met teks, kaarte, fotos, ens. wat deur Warwick en Marlene Tarboton van Modimolle behartig word. Die titel daarvan is Waterberg BioQuest/BioSoektog.

Die Waterberg is asʼt ware op ons voorstoep geleë. Die naam van die bergreeks is afkomstig van die sandsteenformasies wat voldoende water behou om ʼn volhoubare habitat vir mens en dier te vorm.

Die Waterberg is asʼt ware op ons voorstoep geleë. Bela-Bela lê heel suid
Die Waterberg is in wese ʼn verhewe plato, gevorm soos ʼn groot omgekeerde piering wat sowat vier- tot vyfhonderd meter bo die omringende Springbokvlakte uittroon. Die plato bereik sy hoogste punt van 2088 meter bo seevlak in die Marakele Nasionale Park.

Die Waterberg troon sowat vier- tot vyfhonderd meter bo die omringende Springbokvlakte uit (Foto: Warwick Tarboton)
Die gebied strek vanaf Mokopane in die ooste tot by Thabazimbi in die weste. Vaalwater vorm die middelpunt. Dit word aan drie kante deur majestueuse kranse begrens.

Die skouspelagtige kranse van die Waterberg (Foto: Dries de Jager)
Die Waterberg beslaan ongeveer 14 000 m². Dis gelykstaande aan sowat tweederdes van die oppervlakte van die Nasionale Krugerwildtuin.

Die gebied word deur verskeie  riviere gedreineer, onder andere die Mogol, Palala, Mothlabatsi, Sterk, Mogalakwena en Sand.

Die waarde van die Waterberg vir biodiversiteit is geleë in die feit dat populasies van ongeveer 2000 plantspesies hier voorkom. Hiervan het ongeveer 30 ʼn beperkte verspreidingsgebied en is òf skaars òf bedreig. Sowat 119 soogdierspesies, 98 reptielspesies, 447 voëlspesies, 242 skoenlapperspesies en 91 spesies naaldekokers en waterjuffers is onder andere hier opgeteken.

Die Waterberg word relatief yl bewoon en groot dele word aangewend vir bewaring en wildboerdery.

No comments:

Post a Comment