Vroeër vanjaar het hierdie webjoernaal ’n reeks artikels
geplaas oor aspekte van die geskiedenis van ons dorp. In die volgende reeks span
ons die net wyer ten einde ons groter omgewing onder die loep te neem: die
Waterberg.
Alhoewel ʼn verskeidenheid
bronne uiteraard geraadpleeg sal word, is ons hoofbron die uitstekende
webtuiste met teks, kaarte, foto’s, ens. wat deur Warwick en Marlene Tarboton van Modimolle
behartig word. Die titel daarvan is Waterberg BioQuest/BioSoektog.
Die Waterberg is asʼt ware op ons
voorstoep geleë.
Die naam van die bergreeks is afkomstig van die sandsteenformasies wat
voldoende water behou om ʼn volhoubare habitat
vir mens en dier te vorm.
|
Die Waterberg is asʼt ware op ons voorstoep geleë. Bela-Bela lê heel suid |
Die Waterberg is in wese ʼn verhewe plato, gevorm soos ʼn groot omgekeerde
piering wat sowat vier- tot vyfhonderd meter bo die omringende Springbokvlakte uittroon.
Die plato bereik sy hoogste punt van 2088 meter bo seevlak in die Marakele
Nasionale Park.
|
Die Waterberg troon sowat vier- tot vyfhonderd meter bo die omringende Springbokvlakte uit (Foto: Warwick Tarboton) |
Die gebied strek vanaf Mokopane in die ooste tot by Thabazimbi in die weste. Vaalwater vorm die middelpunt. Dit word aan drie
kante deur majestueuse kranse begrens.
|
Die skouspelagtige kranse van die Waterberg (Foto: Dries de Jager) |
Die Waterberg beslaan ongeveer 14 000 m². Dis gelykstaande
aan sowat tweederdes van die oppervlakte van die Nasionale
Krugerwildtuin.
Die gebied word deur
verskeie riviere gedreineer, onder
andere die Mogol, Palala, Mothlabatsi, Sterk, Mogalakwena en Sand.
Die waarde van die Waterberg vir biodiversiteit is geleë in die feit dat
populasies van ongeveer 2000 plantspesies hier voorkom. Hiervan het ongeveer
30 ʼn beperkte verspreidingsgebied en is òf skaars òf bedreig. Sowat 119
soogdierspesies, 98 reptielspesies, 447 voëlspesies, 242 skoenlapperspesies en
91 spesies naaldekokers en waterjuffers is onder andere hier opgeteken.
Die Waterberg word relatief yl bewoon en groot dele word
aangewend vir bewaring en wildboerdery.