Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Monday 24 February 2014

Oom Herman herleef die aanslag op die lewe van dr. H F Verwoerd.

Oom Herman Potgieter (85) het in 2007 saam met sy eggenote, tant Drienie, hulle intrek by #73 geneem nadat hy die tuig neergelê het as 'n vooruitstrewende wildboer in die Ellisras-distrik. Tant Drienie het hom in 2009 ontval.

Oom Herman Potgieter
In sy veelbewoë lewe staan een gebeurtenis soos 'n paal bo water: sy rol ná die sluipmoordaanval op 9 April 1960 op die Suid-Afrikaanse Eerste Minister, dr. H F Verwoerd.

David Beresford Pratt het dr. Verwoerd twee keer met 'n .22-pistool by die Randse Paasskou in Milner Park, Johannesburg, in die gesig geskiet.

Dr. H F Verwoerd - kort ná die aanslag op sy lewe.
Enkele minute daarna is dr. Verwoerd na die nabygeleë Johannesburg Hospitaal geneem.

"Ek was toentertyd die Suid-Transvaalse Streeksekretaris van die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga en woonagtig in Braamfontein, Johannesburg," vertel oom Herman.

Nadat sy skof dié dag by die SA Noodhulpliga-pos by die Randse Paaskou ten einde geloop het, is hy huis toe waar hy later per telefoon die ontstellende nuus oor die aanslag op die lewe van dr.Verwoerd verneem het.

Oom Herman het gou 'n aantal lede van die Noodhulpliga opgekommandeer om 'n erewag by die ingang van die Johanneburg Hospitaal te vorm. Verwoerd wás immers die hoofbeskermheer van die SA Noodhulpliga.

Anna Neethling-Pohl, die vermaarde Afrikaanse aktrise en skrywer, en haar suster, Truida, was ook daar. Truida was die eggenote van die Afrikaanse digter, NP van Wyk Louw. Hulle teenwoordigheid het statuur verleen aan die erewag.

'n Jeugdige Anna Neethling-Pohl
"Ek is later huis toe, stokflou en oorstuur. Teen middernag het iemand hard aan die voordeur geklop. Dit was twee lede van die veiligheidspolisie," vertel oom Herman verder.

Die polisiemanne het gevra dat die Noodhulpliga moet help om dr. Verwoerd in geheimhouding uit die Johannesburg Hospitaal na 'n veiliger oord oor te plaas.

"Ek het gou gereël dat 'n ambulans van die Noodhulpliga na die hospitaal gaan. Ek is in my amptelike voertuig agterna."

Oom Herman het gesien hoe dr. Verwoerd by 'n sydeur uitgesmokkel word. Hy is gou in die ambulans gelaai en met sy lyfwag, kol. Carl Richter, voor langs die bestuurder, na die Pretoria Hospitaal geneem.

Hy het later 'n brief van die Eerste Minister ontvang waarin hy vir sy aandeel in die dramatiese gebeure bedank is.

"Noem my maar sentimenteel," sluit oom Herman sy vertelling af, "ek gee regtig nie om nie; ek kan na al die jare immers nie anders vóél nie."  

No comments:

Post a Comment