Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Sunday 16 February 2014

Frikkie en die nagapies

Frikkie Minny (#136) is 'n natuurliefhebber wat intense genot put uit die dierelewe wat in en naby ons oord aangetref word. 

Frikkie Minny
Frikkie en Raaitjie se woonplek is teenaan die oord se grensdraad geleë. Oorkant die grens pryk die Bosveld in al sy glorie.

Oorkant die grensdraad, langs Frikkie en Raaitjie se huis, is dit pure Bosveld
Hy en sy buurman, Floris van Vreden (#135), het 'n drinkplek aan die oorkant van die grensdraad ingerig en verkneukel hulle aan die diere wat gereeld hulle dors daar kom les. Afgesien van die tarentale wat dikwels besoek aflê, het Frikkie al ystervarke, etlike klein boksoorte en selfs 'n koedoe waargeneem.

Maar een van Frikkie se gunstelingdiertjies is die nagapies wat hy met malvalekkers na die grensdraad naby sy huis lok.

'n Nagapie. Let op die sterk agterlyf.
Hy sê dat hy gewoonlik saans om seweuur die malvalekkers uitsit en dat die nagapies dan binne tien minute hulle opwagting maak om aan die lekkernye te smul.

Frikkie se nagapie smul aan die malvalekkers. Piet Combrink het die foto geneem.
Wat verskeidenheid en getalsterkte betref is nagapies die mees suksevolle primitiewe primate in Afrika. 

Weens hulle groot oë beskik hulle oor uitstekende nagsig. Hulle gehoor is buitengewoon skerp en hulle  lang sterte help hulle om hulle balans te behou. 

Nagapies is ongelooflik rats. Hulle sterk agterbene stel hulle in staat om enorme afstande vir so 'n klein diertjie te spring. Die langste afstand wat al gemeet is, is 2.25 m.

Hulle groot ore help hulle om vlieënde insekte in die donker op te spoor en in die vlieg te vang. Hierbenewens is hulle baie lief vir boomgom, vrugte en selfs klein diertjies.

Frikkie en Raaitjie woon al 18 jaar in die oord. Hy is in Harrismith gebore en sy, in Florida.

Frikkie en Raaitjie. Piet Combrink het ook dié foto geneem.
Hulle het hulle skoolloopbane aan die Hoërskool Nigel voltooi waar Frikkie in 1947 en 1948 die hoofseun was en Raaitjie, 'n kranige atleet. Raaitjie het ná skool 'n bankamptenaar geword en Frikkie het hom eers as 'n elektrisiën en later as 'n elektriese ingenieur bekwaam.

Die egpaar is in 1960 getroud.

No comments:

Post a Comment