Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Wednesday 26 February 2014

D J Opperman, my inspirasie.

"Meneer Opperman was in 1943 my Afrikaansonderwyser toe ek 'n st. 9-leerling aan die Hoërskool Voortrekker, Pietermaritzburg, was," vertel die 86-jarige Tienie Botes met 'n onthou-blik in haar oë.

Sy en haar 87-jarige eggenoot, Theuns, woon al 19 jaar lank in #123.

Tienie Botes
"Hy het ons nie alleen vertroud gemaak met die tegniese aspekte van die Afrikaanse grammatika en letterkunde nie," onthou Tienie, "hy het ons geïnspireer om Afrikaans met 'n groot, groot liefde te bejeën."

D J Opperman - soos Tienie hom onthou
So diepgaande was Opperman se invloed op die aanvallige Tienie de Villiers, dat sy, nadat sy haar skoolloopbaan voltooi het, sélf 'n onderwysdiploma aan die Natal Training College in Pietermaritzburg verwerf het.

Maar, sy het Opperman ook as 'n mens sonder 'n sweempie aanstellerigheid leer ken.

Tienie se ouers was uit huis uit nederige, dog standvastige mense. Haar pa was 'n tronkbewaarder en haar ma, 'n huisvrou.

"Tog," vertel Tienie verder, "was hy en sy vrou nie te trots om by ons te kom kuier en om die kombuistafel saam met ons tee te drink nie."

"Dís die Dirk Opperman wie se beeld my vandag nog bybly; 'n uitstekende onderwyser wie se voorbeeld ek in my eie loopbaan probeer navolg het," sluit Tienie haar relaas met klam oë af.

Diederik Johannes (D.J.) Opperman is op 29 September 1914 op ’n plaas naby Dundee in KwaZulu-Natal gebore. Hy gaan skool op Estcourt en Vryheid. Hy verwerf in 1935 ’n MA-graad aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg en sy doktorsgraad in 1953 aan die Universiteit van Kaapstad. Hy hou skool, o.a. aan die Hoërskool Voortrekker in Pietermaritzburg waar hy in 1943 Tienie se Afrikaansonderwyser was.

Opperman, een van die bekendste Afrikaanse digters, se debuut-digbundel, Heilige beeste, verskyn in 1945 en word in 1947 met die Hertzogprys vir poësie bekroon. Hy ontvang daarna nog drie keer die Hertzogprys: Periandros van Korinthe (vir drama, 1956), Voëlvry (vir drama, 1969) en Komas uit ’n bamboesstok (vir poësie, 1980).

Klik HIER om meer van Dirk Opperman te wete te kom.

1 comment:

  1. Thanks for this blog. So nice to find this lovely article of my Mother's memories. She sadly passed away 2o18.

    ReplyDelete