Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Saturday, 7 September 2019

Veelsydige inwoner beoefen nuwe stokperdjie

Protea-boogskut Dries Engelbrecht
Dries, die bonsai-kweker
Oudskoolhoof, Protea-boogskut en bonsai-kweker Dries Engelbrecht (E132), het onlangs nóg ʼn uitlaatklep vir sy skeppingsdrang gevind: hy maak die mooiste messe denkbaar.

Elke mes 'n kunswerk
'n Vriend maak vir elke mes sy eie skede
Sy seun het hom aan dié kunsvorm bekend gestel en tree op as sy pa se mentor.

Dries het sy motorhuis in ʼn werkswinkel omskep. Hier vervaardig hy sy messe volgens sy eie ontwerp van spesiale staal. Die staal word getemper en gefatsoeneer, waarna die lem herhaaldelik geskuur en gepoets word. Eers as dit aan sy hoë standaarde voldoen, maak hy ʼn hef daarvoor, verkieslik van harde inheemse hout soos swartivoor, huilbos of hardekool.

Dries doenig in sy werkswinkel

Friday, 6 September 2019

Inwoners stel pragboek bekend

Nadat Philip en Ingrid van den Berg (E34) die onderwys in 1997 vaarwel toegeroep het, het hulle hulle eie uitgewersmaatskappy, HPH Publishing, gestig.

HPH Publishing, wat reeds meer as 35 hoëgehalte-koffietafelpublikasies die lig laat sien het, het pas sy nuutste pragboek bekend gestel: Pilanesberg self-drive – routes, roads and ratings.

Pragboek oor die Pilanesberg-wildreservaat
Ingrid het die teks behartig terwyl sy, Philip en hul seun, Heinrich, vir die meeste van die foto’s verantwoordelik was.

Philip en Ingrid tydens die bekendstelling van hul boek
Die Pilanesberg-wildreservaat, 40 km. noordwes van Rustenburg, is geleë in ʼn sirkelvormige gebied wat sowat 1 200 miljoen jaar gelede weens vulkaniese aktiwiteit ontstaan het.

Satellietfoto van die Pilanesberg-wildreservaat
Pilanesberg self-drive – routes, roads and ratings bied nie alleen ‘n oorsig van ’n interessante bosveldparadys nie, maar is as ʼt ware ʼn gids met inligting vir besoekers aan die Pilanesberg-wildreservaat. Dit beskryf ʼn verskeidenheid roetes in die park, elk met teks en foto’s van die plantegroei, wildbesigtigingsgeleenthede en ʼn geskiedkundige oorsig van die omgewing. Daarbenewens verskaf dit nuttige gegewens in verband met die beskikbare verblyf en aktiwiteite waaraan besoekers kan deelneem.

Wednesday, 4 September 2019

Oord verwelkom oudonderwyser

Hans van der Westhuizen
Hans van der Weshuizen (E33) is 66 jaar gelede naby Pontdrif gebore. Hy het daar op die familieplaas grootgeword, maar later saam met sy gesin na Modimolle verhuis. Hy het die laaste deel van sy laerskoolopleiding aan die Laerskool Nylstroom voltooi voordat hy in 1973 matriek aan die Hoërskool Nylstroom geslaag het.

Ná skool het hy SAW-diensplig op Walvisbaai, Namibië, deurloop. Hierna het hy ʼn vierjarige onderwyskwalifikasie aan die Normaalkollege Pretoria behaal. Sy spesialisvakke was Geografie en Afrikaans. Later het hy drie jaar lank deeltyds by UNISA gestudeer. Vanaf 2006 en tot sy aftrede aan die einde van 2018, was hy ʼn Afrikaansonderwyser aan die Hoërskool Warmbad.

Om te ontspan speel hy graag gholf en stel baie belang in inheemse bome.

Hans sê dat ons netjiese oord met sy goeie sekuriteit, rustigheid en vriendelike inwoners hom onlangs laat besluit het om hierheen te verhuis. Hierbenewens is dit naby Pretoria waar sy twee dogters en twee kleinkinders woon. Sy seun woon en werk tans in Natal.

Tuesday, 3 September 2019

Vetkoet sale once again well-supported by residents

The Social Action recently held a vetkoek sale that has become a perennial favourite in our village.

Braam Cilliers is our money-man and takes care of distribution. Rita Vosloo enjoys a well-earned cup of tea in the background
F.l.t.r Bets Cillers, Lettie Roode, Linkie Ellis and Edna Corneleius share a joke with Hennie de Villiers (partly obscured) . Elize Strydom stands in the background



Saturday, 13 July 2019

Welsh Prinsloo

WELSH PRINSLOO (78), wat onlangs sy intrek in E16 ingeneem het, is ʼn Bosvelder in hart en niere. Hy is in Polokwane gebore en het op Mookgopong grootgeword waar hy in 1959 aan die Hoërskool Hans Strydom gematrikuleer het. Ná skool het hy in Suid-Afrika en in die buiteland by Barclays Bank gewerk totdat hy in 2009 as ʼn streekbestuurder afgetree het. Hy het hierna nog vir etlike jare lank vryskutwerk vir die bank en ander instansies gedoen.

Welsh en Loura is in 1967 in Pretoria getroud. Sy het hom in 2007 ontval. Loura was ʼn knap pianis, dosent en later musiekonderwyser wat o.a. in die vroeë sewentigerjare die bekende musieksentrum by die Hoërskool Warmbad van stapel gestuur het.

Twee kinders is uit hulle huwelik gebore. Hulle seun is onlangs oorlede en hulle dogter is ʼn musiekonderwyser in Heidelberg. Sy het twee dogters. Een is ʼn sielkundige wat in Vietnam werk en die ander een is nog op skool. Laasgenoemde is van plan om later in die medisyne te studeer.

Welsh sê dat hy verskeie aftreeoorde oorweeg het nadat hy sy huis in Panoramapark verkoop het. Sy keuse het op ons oord geval omdat dit bekostigbaar is en die wooneenheid aan sy verwagtinge voldoen. 

Friday, 12 July 2019

Willy Funchal

Willy Funchal
Die 59-jarige WILLY FUNCHAL (E85) is in Boksburg gebore en getoë, maar woon reeds ʼn geruime tyd lank in Bela-Bela. Hy het onlangs na ons oord verhuis, hoofsaaklik omdat dit hier so mooi, rustig, bekostigbaar en veilig is. Hy woon in E85.

Nadat hy sy skoolopleiding in 1976 aan die Benoni Technical High School voltooi het, het hy twee jaar lank in die argitektuur aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. Daarna was hy ʼn boukontrakteur totdat hy in 2010 afgetree het.

Sy belangstelling in die argitektuur asook sy bedrewenheid in die rekenaartegnologie, het tot gevolg dat hy jare lank al intensief betrokke is by die rekenaargesteunde grafiese ontwerp (computer aided drawing) van geboue.

Ter afwisseling skryf Willy gedigte en e-boeke, en reis graag oorsee. Hy het twee kinders en twee kleinkinders.

Tuesday, 25 June 2019

Oefengroep vier tweede bestaansjaar

Ons oefengroep onder leiding van Rina Steynberg, was op 5 Junie 2019 twee jaar oud. Om die geleentheid te vier is ʼn glasie sjerrie geklink.

Die doel van dié aktiwiteit is om inwoners te help om hulle lywe soepel te hou deur middel van liggaamlike oefeninge wat spesiaal vir die ouer garde ontwikkel is.

Hierbenewens plaas deelnemers gereeld ʼn geldjie ten bate van die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) in ʼn boksie.  Die bedrag wat in 2018/2019 bygedra is, beloop R8 474. Die afgelope twee jaar het die groep die stewige bedrag van R14 241 aan KANSA geskenk.

Die foto’s hieronder bied ‘n oorsig van die gebeure op 5 Junie.

"Trek die magies in ... Knyp die boudies vas ... "
Die oefengroep swoeg en sweet o.l.v. Rina  Steynberg (E105). Hierbo sny sy die verjaardagkoek wat Lienkie Ellis (E138) vir die geleentheid gebak het
Die oefengroep klink 'n glasie sjerrie om die geleentheid te vier
Die boksie waarin die lede van die oefengroep sedert sy ontstaan  R14 241 ten bate bate die Kankervereniging van Suid-Afrika geplaas het