Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Thursday, 6 January 2022

Oord verwelkom Sollie en Trudie Brits

Sollie (63) Trudie Brits (65) het 30 jaar lank in eMalahleni (voorheen Witbank) gewoon. Nadat Sollie in Mei 2021 afgetree het, het hulle verskeie aftreeopsies oorweeg voordat hulle besluit het om   E33 in ons oord aan te skaf.

Tot dusver is hulle ingenome met hul keuse omdat hulle wooneenheid aan die meeste van hul vereistes voldoen, die Bosveldlug suiwer en die leefwyse rustig, bekostigbaar en veilig is.

Sollie is in Klerksdorp gebore en het sy skoolloopbaan in 1975 aan die Hoërskool Lydenburg voltooi. Hierna het hy sy nasionale diensplig voltooi en by Transnet in diens getree waar hy hom mettertyd as ̓n statistikus bekwaam het.

Trudie is in Pretoria gebore en het in Johannesburg grootgeword. Nadat sy haar skoollopbaan in 1973 aan die Hoërskool D F Malan voltooi het, het sy ̓n ruk lank by Transnet gewerk voordat sy ̓n heeltydse tuisteskepper geword het. Sy het op eMalahleni as ̓n baasbakster bekend gestaan. Deesdae, sê sy, bak sy net koekies en beskuit vir haar kleinkinders!

Sollie en Trudie is 1981 getroud. Twee kinders en twee kleinkinders is uit hulle huwelik gebore. 

Tuesday, 4 January 2022

Voorsitter se boodskap - Januarie 2022

Die Voorsitter van die Warmbad Renaissance-bestuurskomitee, WESSIE VAN DER WESTHUIZEN, skryf: As begenadigde inwoners is ons bevoorreg om ons oord in 2022 tot eer van God te bestuur. Die bestuurskomitee onderneem derhalwe om diensbaar te wees en doen `n beroep op alle inwoners om eweneens ̓n bydrae te lewer.

Water conservation and the reduction of the effects of load shedding on everybody’s life, are great challenges.  The Management Committee will focus on (a) continued, affordable water provision for each unit; (b) investigating energy saving practices; (c) the maintenance of effective security; (d) the improvement of gardening and maintenance services.

Selfdissipline t.o.v huishoudelike gebruike kan bydra tot verminderde KVA-verbruik en kragrekenings. Inwoners word aangeraai om alle elektriese toerusting tydens kragonderbrekings af te skakel, behalwe ̓n lig wat as aanduiding kan dien dat beurtkrag verby is. Moenie alle toestelle gelyktydig aanskakel nie. Dit verhoog KVA-verbruik. Skakel toestelle, bv. die geiser en stoof wat nie onmiddellik benodig word nie, later aan.

The Management Committee appeals to residents to contribute to discussions at meetings of experts groups in order to make certain that well-considered resolutions are passed.

Die vesel-internetkabels is geïnstalleer. Tree met Herotel (015 297 3816) in verbinding om `n pakket te beding wat aan u behoeftes voldoen.

In closing, we hope that social activities will fully resume this year. Social interaction undoubtedly promotes a feeling of togetherness in our village.

Wednesday, 8 December 2021

Kersgroete

 

Welkom, o stille nag van vrede,

onder die suiderkruis,

wyl stemme uit die ou verlede

oor sterrevelde ruis.

 

Hoor jy hoe sag die klokke beier

in eeue-oue taal.

Kyk, selfs die nagtelike swye

vertel die ou verhaal.

 

Kersfees kom, Kersfees kom –

gee aan God die eer.

Skenk ons 'n helder Somerkersfees

in hierdie land, o Heer.

Koos du Plessis

 

Monday, 6 December 2021

Oord verwelkom Chris en Sue Bekker

Chris (77) en Sue (77) Bekker het pas in hulle wooneenheid (E85) ingetrek, toe Kwêvoël hulle besoek het. Hulle het vertel dat hulle besluit het om uit die stad na die platteland te verhuis. Tydens ̓n onlangse besoek aan Bela-Bela het hulle hul harte verloor op ons oord en sy pragtige mense.

Chris is in Vrede gebore en het in 1961 aan die Hoërskool Vrede gematrikuleer. Na jare in die bankwese, verander hy van koers en behaal ̓n kwalifikasie as opmeter aan die Technikon Pretoria. Hierna het hy jare lank as ̓n opmeter gewerk voordat hy in 2020 die tuig neergelê het.

Sue is in Pretoria gebore. Nadat sy aan die Hoërskool Wonderboom gematrikuleer het, het sy ̓n maatskaplike werker geword. Sy het die M.Soc.Sc.-graad met lof aan die Universiteit van die Vrystaat behaal. Sy het in 2014 afgetree.

Chris en Sue is in 1967 getroud. Hulle het twee kinders, vyf kleinkinders en twee agter-kleinkinders.

Sunday, 5 December 2021

Oord verwelkom Barend en Riekie Werner

Barend (59) en Riekie (52) Werner het hulle onlangs in E73 tuisgemaak nadat hulle verskeie aftreeplekke oorweeg het. Hulle sê dat hulle wooneenheid nommerpas is en dat hulle baie veilig en rustig voel.

Riekie is in Johanneburg gebore en getoë. Nadat sy haar skoolopleiding voltooi het, het sy op haar oom se plaas in Hammanskraal gewoon.

Barend is in Boksburg gebore en het op ̓n plaas in Hammanskraal grootgeword. Nadat hy sy skoolopleiding aan die Hoërskool Sasolburg voltooi het, het hy hom as ̓n ketelmaker bekwaam en vervolgens  ̓n beroep in die staalbedryf gevolg.

Riekie en Barend is in 1987 getroud. Drie kinders en twee kleinkinders is uit hulle huwelik gebore.

Saturday, 4 December 2021

'n Gereelde besoeker aan ons oord

Die kliplikkewaan (Varanus albiguralis) is  ̓n gereelde besoeker aan ons oord en is reeds deur verskeie inwoners opgemerk. Die foto hierbo toon een hiervan in ʼn haakdoringboom voor E137 waarin Gerhard en Annatjie Swart woon.

Die volwasse kliplikkewaan is 100 tot 150 cm lank en weeg sowat 12 tot 15 kg. Die volwasse likkewaan se rugkant is grys-bruin, die pens bleekgeel met donker kolle en dwarsstrepe. Dit het ʼn geronde snoet en gevurkte tong soos wat Philip van den Berg (E34) se foto hierbo toon.

Hierdie spesie is opportunistiese vreters. Hulle smul graag aan ongewerwelde  diere, veral duisendpote, kewers, slakke, asook jong skilpadjies en eiers.

Die kliplikkewaan, wat oor feitlik die hele Suid-Afrika voorkom, leef in ruigtes, boomveld en koppies.

Thursday, 2 December 2021

Oord verwelkom Johan en Noeline Schreuder

 

Johan (78) en Noeline (75) Schreuder het onlangs hulle braaikuiken-boerdery buite Bela-Bela van die hand gesit en na E56 in ons oord verhuis. Alhoewel hulle nog werskaf om hulle eenheid volgens hulle voorkeure te verander, is hulle reeds ingeburger en geniet die veilige en rustige omgewing.

Johan en Noeline is albei gebore en getoë Namibiërs. Johan is in Otjiwarongo gebore en het op Otavi grootgeword. In 1961 het hy sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Otjiwarongo voltooi. Hierna was hy ̓n student aan die SA Polisiekollege, ‘n bankamptenaar, ̓n rekenmeester by Vleissentraal en ̓n hoenderboer waar hy en Noeline vyftien jaar lank geswoeg en gewerskaf het.

Noeline is in Keetmanshoop gebore en het haar hoërskoolloopbaan in 1963 aan die Hoërskool Otjiwarongo voltooi. Na skool het sy by dieselfde bank as Johan begin werk waar hulle vir mekaar begin ogies maak het. Hulle is in 1966 getroud. Drie dogters en sewe kleinkinders is uit hul huwelik gebore.