Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Sunday 11 June 2017

Oord verwelkom voormalige inwoners van Hennenman

Voormalige inwoners van Hennenman, Hennie (74) en Martie (74) Huyser, het onlangs in E63 ingetrek nadat hulle sowat twee jaar lank in hulle woonwa in die Kleinbegin-woonwapark naby Bela-Bela gewoon het.

Hennie en Martie Huyser
Hulle het dit egter gaandeweg ernstig oorweeg om hulle iewers in die Bosveld met sy heerlike klimaat te vestig. Nadat hulle ‘n aantal aftreeoorde elders oorweeg het, het dié gemoedelike egpaar Warmbad Renaissance gekies omdat hulle eenheid gerieflik en bekostigbaar is, die oord goed bestuur word en hulle hier veilig voel. Hierbenewens het die oord se webtuiste geen geringe rol in hulle besluit gespeel nie.

Hennie is in Port Elizabeth gebore. Hy het egter in Stellenbosch grootgeword en Paul Roos Gimnasium bygewoon. Nadat hy aan die Hoërskool Monument op Krugersdorp gematrikuleer het, het hy by die Suid-Afrikaanse Polisie aangesluit en in die berede afdeling gedien wat gereeld by seremoniële geleenthede opgetree het – onder andere die opening van die parlement.

Hennie was voorheen 'n lid van die SAP se berede afdeling
Hennie het uiteindelik as die hoof van beskermingsdienste van die munisipaliteit op Hennenman afgetree.

Martie is in Randfontein gebore en getoë. Sy het aan die Hoërskool Riebeeckrand op die dorp gematrikuleer waar dr. Connie Mulder, wat later die minister van inligting in die Vorsterregering sou word, een van haar onderwysers was. Nadat sy die skool verlaat het, het sy by Standard Bank in diens getree waar sy 40 jaar lank ‘n bekwame en gewaardeerde werknemer was.

Hennie en Martie is diep gelowige mense. Hulle was voorheen aktiewe lede van die Suid-Afrikaanse vertakking van die International Christian Motorcyclists Association. Hierdie organisasie was een van die vele wat aan hulle ‘n uitlaatklep vir hulle oortuigings gebied het.

Die kenteken van die International Christian Motorcyclists Association
Dié egpaar is 52 jaar gelede op Krugersdorp getroud en het drie kinders, agt kleinkinders en een agterkleinkind.

No comments:

Post a Comment