Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Friday 23 June 2017

Ons oord is nie ‘n meenthuiskompleks nie.


(Nota: Let asseblief op die verskil tussen die begrippe “bestuursvereniging” en “bestuurskomitee”)

Die ingang van ons oord
Warmbad Renaissance is ‘n sekuriteitsaftreeoord wat ingevolge bepaalde wetgewing bedryf word, te wete die Wet op Behuisingsontwikkelingskemas vir Afgetrede Persone (Wet nr. 65 van 1988), asook die Wet op Deeltitelskemas (Wet 95 van 1986) soos gewysig. Die doel daarvan is om die doen en late van gemeenskappe soos ons s’n (en hulle besoekers) te orden sodat inwoners in vrede en liefde kan saamleef.

Hierdie wetgewing bepaal dat elke aftreeoord oor ‘n konstitusie moet beskik. Die konstitusie maak onder andere voorsiening vir die stigting van ‘n bestuursvereniging. Die bestuursvereniging bestaan uit persone wat ‘n behuisingsbelang in die oord het, dit wil sê individue wat ten minste een eenheid in die oord besit.

Die konstitusie stipuleer dat die bestuursvereniging ‘n komitee moet verkies wat “alle pligte moet uitvoer wat die bestuursvereniging hom oplê.” Hierdie komitee staan bekend as die bestuurskomitee van die bestuursvereniging. Ons bestuurskomitee word jaarliks deur die bestuursvereniging verkies. Bestuurskomiteelede word nie vergoed vir die diens wat hulle lewer nie.

Verder spesifiseer die konstitusie dat die bestuursvereniging reëls moet maak “vir die gedrag van lede”. Die reëls is op alle inwoners van toepassing en staan in ons oord bekend as gedragsreëls.

Ons huidige gedragsreëls is op 29 November 2012 deur die bestuursvereniging goedgekeur. Enkele wysigings is op 24 November 2016 goedgekeur.

Ons administratiewe beampte moet toesien dat elke inwoner ‘n afskrif van die konstitusie en gedragsreëls ontvang voordat hulle in ‘n eenheid intrek.

Inwoners moet daarop let dat onkunde met betrekking tot die inhoud van die konstitusie en die gedragsreëls nie ‘n geldige verweer is nie. 

No comments:

Post a Comment