Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Sunday 25 September 2016

Oord verwelkom Kobie en Robert Hall

Kobie en Robert Hall
Kobie (59) en Robert (61) Hall het verskeie veiligheidskomplekse oorweeg voordat hulle onlangs vanaf die Rand na ons oord verhuis en hulle in E42 tuisgemaak het. Hier het hulle gou korte mette gemaak met die ietwat ouderwetse voorkoms van hulle eenheid. Tans vertoon dit heel byderwets.

Op die vraag waarom hulle juis op Warmbad Renaissance as ‘n woonplek besluit het, rammel Kobie die redes sonder omhaal van woorde af: bekostigbaarheid, die goedversorgde terrein, veiligheid, rustige plattelandse omgewing, goeie plaaslike mediese geriewe en, les bes, die feit dat haar ouers, Mari en Carl Fechner (E57), óók in die oord woon.

Kobie is ‘n sprankelende, lewenslustige vrou wat op Klerksdorp gebore is en op Krugersdorp grootgeword het. Hier het sy aan die Hoërskool Monument gematrikuleer voordat sy ‘n onderwysdiploma aan die Goudstadse Onderwyskollege behaal het. Later het sy ‘n hoër onderwysdiploma in remediërende onderwys aan die Onderwyskollege vir Verdere Opleiding in Pretoria behaal.

Kobie het besondere deernis met leergestremde kinders en het gevolglik haar hele onderwysloopbaan aan hulle belange gewy. Sy het uiteindelik in 1997 ‘n uittreepakket aanvaar terwyl sy aan die Lantern Remediërende Skool verbonde was.

Robert is ‘n standvastige, doelgerigte man wat in Bantrybaai in die Weskaap gebore is en op Vredenburg grootgeword het. Hier het hy aan die Hoërskool Vredenburg gematrikuleer voordat hy die Hoër Onderwysdiploma aan die Goudstadse Onderwyskollege behaal het.

Na ‘n korterige onderwysloopbaan is hy privaatsektor toe. Tans is hy ‘n projekbestuurder by Edcon en verantwoordelik vir die vestiging van die groep se winkels in Limpopo.

Robert en Kobie het mekaar op onderwyskollege ontmoet en is in 1979 op Krugersdorp getroud nadat sy hom van een van haar vriendinne afgevry het! Hulle het twee kinders en ‘n pragtige kleinseun op wie hulle versot is.

Kobie verwoord haar gunstelingtydverdryf so: “When I work, I cook. For fun I bake!” In sy vrye tyd restoureer Robert graag meubels.

No comments:

Post a Comment