Kobie en Robert Hall |
Kobie (59) en Robert (61) Hall het
verskeie veiligheidskomplekse oorweeg voordat hulle onlangs vanaf die Rand na
ons oord verhuis en hulle in E42 tuisgemaak het. Hier het hulle gou korte mette
gemaak met die ietwat ouderwetse voorkoms van hulle eenheid. Tans vertoon dit
heel byderwets.
Op die vraag waarom hulle juis
op Warmbad Renaissance as ‘n woonplek besluit het, rammel Kobie die redes sonder
omhaal van woorde af: bekostigbaarheid, die goedversorgde terrein, veiligheid, rustige
plattelandse omgewing, goeie plaaslike mediese geriewe en, les bes, die feit
dat haar ouers, Mari en Carl Fechner (E57), óók in die oord woon.
Kobie is ‘n sprankelende,
lewenslustige vrou wat op Klerksdorp gebore is en op Krugersdorp grootgeword
het. Hier het sy aan die Hoërskool Monument gematrikuleer voordat sy ‘n
onderwysdiploma aan die Goudstadse Onderwyskollege behaal het. Later het sy ‘n
hoër onderwysdiploma in remediërende onderwys aan die Onderwyskollege vir
Verdere Opleiding in Pretoria behaal.
Kobie het besondere deernis met
leergestremde kinders en het gevolglik haar hele onderwysloopbaan aan hulle
belange gewy. Sy het uiteindelik in 1997 ‘n uittreepakket aanvaar terwyl sy aan
die Lantern Remediërende Skool verbonde was.
Robert is ‘n standvastige,
doelgerigte man wat in Bantrybaai in die Weskaap gebore is en op Vredenburg
grootgeword het. Hier het hy aan die Hoërskool Vredenburg gematrikuleer voordat
hy die Hoër Onderwysdiploma aan die Goudstadse Onderwyskollege behaal het.
Na ‘n korterige onderwysloopbaan
is hy privaatsektor toe. Tans is hy ‘n projekbestuurder by Edcon en
verantwoordelik vir die vestiging van die groep se winkels in Limpopo.
Robert en Kobie het mekaar op
onderwyskollege ontmoet en is in 1979 op Krugersdorp getroud nadat sy hom van een
van haar vriendinne afgevry het! Hulle het twee kinders en ‘n pragtige
kleinseun op wie hulle versot is.
Kobie
verwoord haar gunstelingtydverdryf so: “When I work, I cook. For fun I bake!”
In sy vrye tyd restoureer Robert graag meubels.