Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Thursday 25 June 2015

Nuwe voorsitter nommerpas vir sy taak

Die 68-jarige Gerhard van Rooyen is pas aangewys as die nuwe Voorsitter van die Warmbad Renaissance Bestuursvereniging in die plek van Johnny Meyer wat weens gesondheidsredes uitgetree het.

Gerhard van Rooyen
Gerhard is op Groblersdal gebore. Hy was die oudste kind van Ryk en Trientjie van Rooyen. Ryk was 'n sakeman en Trientjie, 'n  onderwyseres.

Toe hy agt jaar oud was, is sy pa oorlede en het die gesin na Lydenburg verhuis waar hy grootgeword het. Hy het in 1963 aan die Hoërskool Lydenburg gematrikuleer.

'n Paar jaar nadat Gerhard die skool verlaat het, het hy 'n betrekking by Total SA, aanvaar. By hierdie petroleummaatskappy is sy talent as bemarker geslyp sodat hy mettertyd 'n area-verkoopsbestuurder geword het. In 1981 het hy 'n Total-vulstasie op Boksburg gekoop.

Hy en Annatjie is in 1985 getroud. Tussen hulle het hulle vier seuns en ses kleinkinders op wie hulle versot is.
Gerhard en Annatjie op hulle troudag in 1985
In 1997 verkoop hy die vulstasie en trek na 'n kleinhoewe naby Mabalingwe waar hy en sy swaer 'n tamatieboerdery bedryf het.

In 1999 verwesenlik hy 'n lankgekoesterde ideaal. Hy verwerf 'n mikro-ligte vlieënierslisensie. Voortaan sou hy sy passie vir vlieg kon uitleef.

In 2009 roep hy die tamatieboerdery vaarwel toe en in 2014 vestig hy en Annatjie hulle in Eenheid 92, Warmbad Renaissance. Hier vind hulle rus en vrede in die pragtige Bosveld.

Gerhard is nommerpas vir sy nuwe taak. Hy is 'n logiese denker, verkies 'n geordende omgewing en is baie gesteld op noukeurigheid. Hierbenewens handhaaf hy baie goeie interpersoonlike verhoudinge.

Die oord wens hom alles van die allerbeste toe.

No comments:

Post a Comment