Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Tuesday 3 February 2015

Oos, wes, Warmbad Renaissance bes

Desmond en Isabel Brooks het onlangs na Warmbad Renaissance verhuis. Hierdie vriendelike egpaar kom van Tzaneen af waar hulle 35 jaar lank gewoon het.

Desmond en Isabel Brooks
Desmond was jare lank 'n werktuigkundige by Letaba Estates. Isabel het sekretariële werk in die administratiewe kantoor verrig.

Ná Desmond se aftrede was hy 'n ruk lank in diens van 'n motorhandelaar op Tzaneen voordat hy die boubedryf aangedurf het. Isabel het die administrasie van die onderneming behartig. Hulle het talle huise vir klante in Giyani, Malamule en Tzaneen gebou. Later het hulle ook  ‘n blok woonstelle vir hulle eie doeleindes opgerig.

Toe pak 'n lank-sluimerende swerflus hulle beet. Hulle het oornag hulle belange te gelde gemaak, 'n woonwa volgens hulle eie spesifikasies laat bou en in die pad geval. Toe hulle in ons geweste beland, het hulle só daarvan gehou dat hulle 'n woonwastaanplek by die Marula Mountain Village aangeskaf het.

Mettertyd het hulle egter die behoefte ontwikkel om maar weer iewers wortel te skiet.

In 2014 het hulle 'n eiendomsagent op Bela Bela geraadpleeg wat hulle na ons aftree-oord gebring het. Hulle het terstond verlief geraak op die gerieflike eenheid wat aan hulle getoon is. Die rustige en goedversorgde terrein het hulle eweneens geval.

Hulle het kort voor lank 'n huurooreenkoms vir eenheid 42 aangegaan en op 14 Januarie 2015 hulle intrek geneem.

Hulle is nog té besig om nes te skrop en het dus nie veel tyd tot hulle beskikking om aan oordaktiwiteite deel te neem nie.

"Dis egter net 'n kwessie van tyd voordat ons wél betrokke sal raak," sê hulle.

Desmond en Isabel is baie trots op hulle drie kinders, ses kleinkinders en twee agterkleinkinders.

No comments:

Post a Comment