Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Tuesday 20 January 2015

Hier, daar en oraloor

Tom en Trynie Marx woon in Eenheid 114. Tom is 'n veelsydige man en Trynie, 'n minsame vrou met 'n fyn humorsin. Hulle is diep gelowinge mense.

Tom en Trynie Marx
Trynie is 73 jaar gelede in Johannesburg gebore. Sy het op Brakpan grootgeword waar sy aan die plaaslike Tegniese Kollege gematrikuleer het. Die 81-jarige Tom is op Warden gebore. Hy het op Trompsburg grootgeword en aan die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem gematrikuleer.
 
Ná skool het Trynie haar aanvanklik in die bankwese bevind en later as die sekretaresse van die hoof van Perskor in Johannesburg. Nadat sy getroud is kon sy haar gunstelingrol as tuisteskepper vervul.

Trynie spog met ses kinders, vyftien kleinkinders en tien agterkleinkinders.
 
Tom is 'n onderwyser in hart en niere. Weens omstandighede moes hy egter wye draaie as mynwerker, begrafnisondernemer, boer en bosbouer gooi. Hy wou van kleins 'n predikant word, maar sy pa kon dit nie bekostig om hom sewe jaar lank op universiteit te hou nie. Plan B was om deur middel van 'n onderwysbeurs eers die Laer Primêre Onderwysdiploma aan die Bloemfonteinse Onderwyskollege te verwerf. Hy het later die BA-graad met Afrikaans-Nederlands en Sosiologie as hoofvakke, aan Universiteit van die Oranje-Vrystaat behaal. Hy was in 1952 'n lid van die studenteraad van die universiteit.
 
Tom het in die Oranje-Vrystaat skoolgehou voordat hy 'n pos aan die Hoërskool Vryheid in KwaZulu-Natal aanvaar het waar die Engelse taal vir hom aanvanklik 'n blok aan die been was. Hy het later 'n Departementshoof (Tegniese Vakke) aan die Hoërskool Pionier op Vryheid geword.
 
Intussen het hy en sy eerste eggenote, Marinda, drie kinders grootgemaak wat op hulle beurt vier kleinkinders in die wêreld gebring het. Marinda het hom in 1997 ontval.
 
Toe ontmoet Tom en Trynie mekaar, raak verlief en trou in 2003.
 
Tom en Trynie op hulle huweliksdag, 2 Maart 2003

 Tom en Trynie het in 2011 na Warmbad Renaissance verhuis en sê hulle woon baie lekker hier, dankie. Hy is versot op ligte klassieke musiek en bespeel die elektroniese orrel. Hierbenewens leef hy sy passie vir houtwerk uit. Sy is ewe lief vir musiek, doen kwiltwerk en dit wat sy die beste doen, tuisteskepping vir haar en Tom.

No comments:

Post a Comment