Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Friday 14 November 2014

Voormalige Durbanse dosent vind tuiste in Bosveld

Warmbad Renaissancers kom van oraloor - selfs Natal, "the last outpost of the British Empire".

Die verfynde 74-jarige Marie Snyman het 22 Jaar lank in Durban-Noord saam met haar wederhelf, kol. Koos Snyman, en hulle dogter, Hendrien, gewoon.

Marie, Hendrien en Koos Snyman in 1979
Koos was toentertyd die bevelvoerder van die Port Natal-tak van die Suid-Afrikaanse Kriminele Buro. Hendrien het aan die Afrikaanse Hoërskool Durban-Noord gematrikuleer voordat sy die B.Cur.-graad aan die Randse Afrikaanse Universiteit behaal het.

Marie is in 1940 in Meyerton gebore en het in 1958 aan die Hoërskool Monument gematrikuleer. Ná skool het sy die B.Sc.-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal. Terwyl sy by die Onderstepoort Veterinêre Instituut werksaam was, het sy die M.Sc. (Dierkunde)-graad aan die Randse Afrikaanse Universiteit behaal.

Dít was voordat sy en Koos in 1973 getroud is en Durban toe getrek het. Koos was 'n wewenaar met een dogter, twee kleinkinders en twee agterkleinkinders.

Marie sê: "Ek is net so erg oor hulle as wat ek oor Hendrien en ons kleindogter, Anmaré, is."

In 1978 het die Durbanse Onderwyskollege haar genader om Dierkunde te doseer. Sy het ingewillig. Die kollege in Queen Marylaan, Umbilo, was egter ver van haar huis in Durban-Noord af, met die gevolg dat sy haar bedanking na 'n jaar ingedien het.

Toe Koos in 1983 aftree, het hulle na 'n aftreeplek begin soek en toevallig 'n advertensie van Warmbad Renaissance in Die Kerkbode raakgesien. Hulle het ondersoek ingestel, besluit om Eenheid 45 te koop en in 1995 hierheen getrek.

Marie Snyman in 2014
Koos is in 2004 oorlede. Sedertdien is Marie 'n ware staatmaker in die oord, die NG Gemeente Warmbad en KANSA.

No comments:

Post a Comment