Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Monday 1 September 2014

Bestuurskomitee vergader

Inleiding
Die ondervermelde aangeleenthede het tydens die Algemene Vergadering en Bestuurskomiteevergadering op 28 Augustus 2014 aandag geniet. 

Finansies
Volgens die Bestuursagent is ons finansies steeds kerngesond. Die finansiële state vir die jaar geëindig 31 Desember 2013 is goedgekeur.

Watermeters
Tot dusver is 100 watermeters geïnstalleer.

Webtuiste
Die voorgestelde Renaissance-webtuiste is goedgekeur. Klik HIER om dit te besigtig. Tree asseblief met Jacky in verbinding indien u u eenheid daarop wil adverteer. 'n Klein bedraggie sal vir hierdie diens gehef word.

Heffings
Ter wille van sekuriteit word u aangeraai om, indien moontlik, u heffing nie in kontant te vereffen nie. Daar bestaan verskeie veiliger opsies, byvoorbeeld tjeks, die  "Electronic Funds Transfer"-stelsel deur gebruik te maak van u eie rekenaar, die kitsbank ("Automated Teller Machine")-opsie wat u in staat stel om geld deur middel van u bankkaart oor te plaas, oorplasings wat binne-in 'n bank by die toonbank gedoen kan word, en "One-time Password"-oorplasings. Jacky sal u ten opsigte van die laaste opsie van raad en daad kan voorsien.

Koerantaflewering
Die persoon wat vir die verspreiding van koerante in die oord verantwoordelik is, sal versoek word om die afleweringstyd van 05:00 na 06:00 te verander.

Koöptasie
Lirpa Kuntz (Eenheid 140) het deur middel van koöptasie lid van die Bestuurskomitee geword. Sy sal vir die finansiële portefeulje verantwoordelik wees. Lirpa is 'n afgetrede onderwyseres in handelsvakke en 'n suksesvolle sakevrou.

Lirpa Kuntz
Sekuriteit
Indien u 'n werker eenmalig by die oord inbring, moet u die persoon asseblief na die hek vergesel wanneer hy/sy vertrek. Die doel van hierdie reëling is om te keer dat vreemdelinge in die oord ronddwaal. 

Die hek wat toegang tot die woonwapark verleen, sal voortaan tussen 18:00 en 06:00 gesluit word. U kan 'n sleutel vir die slot teen R20.00 by Pat Pretorius (Eenheid 133) aanskaf.

Faktotum
William Baloyi is met ingang van 1 September 2014 op proef as ons Faktotum aangestel. Gedurende die afgelope 18 jaar het hy as ons oord se nutsman allerweë agting en geneëntheid geniet.

William Baloyi
Mosie van waardering
'n Mosie is aanvaar wat waardering uitspreek vir die uitstekende werk wat Jacky as ons Administratiewe Beampte doen. Sy is 'n positiewe persoon wat haar pligte buitengewoon opgeruimd, hulpvaardig en met deernis nakom.

Jacky Putter
Nuwe inwoners
Na 'n langerige tydperk van relatiewe traagheid in die verhuring, koop en verkoop van eenhede, is dit met genoegdoening dat ons onlangs heelwat nuwe inwoners in die oord kon verwelkom: Mattie Mostert (Eenheid 1), Ans du Plessis (Eenheid 12), Susan Benadé (Eenheid 62), Gerhard & Annetjie van Rooyen (Eenheid 92), Koos & Linda Grobler (Eenheid 95), Tiny & Susan Hitge (Eenheid 101), Marieta Kruger (Eenheid 110), Pieter & Anette Heyneke (Eenheid 125). Philip & Ronél van der Walt (Eenheid 100) trek eersdaags in.

Meegevoel
Elsa Wilkens (Eenheid 62) and Schalk van der Merwe is onlangs oorlede. Schalk was 'n voormalige inwoner wat 'n ruk gelede na Die Palms verhuis het. Hulle afsterwe laat 'n groot leemte.

Ambulansdiens
Die twee plaaslike private ambulansdienste is versoek om 'n kontrolelys op te stel van die inligting wat hulle benodig indien hulle ontbied word om 'n pasiënt na die hospitaal af te voer. U sal eersdaags verdere inligting hieroor ontvang. 

Reklame
Positiewe reklame is om voor die hand liggende redes vir die oord van belang. Die redakteur van Die Pos sal eersdaags gepols word oor die moontlikheid om een keer per maand 'n storie oor ons oord en sy mense te plaas. Ons sal die storie voorsien.

Ons plaaslike koerant

No comments:

Post a Comment