Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Tuesday 30 September 2014

Dinamiese Delene afgetree? Nooit gesien nie!

Toe Delene en Joepie Bekker die beroepswêreld vaarwel toegeroep het, het hulle mekaar belowe: "Ons gaan nie aftree nie, ons gaan optree!" Joepie was 'n assistent-ingenieur by Eskom en Delene, 'n tuisteskepper.

Delene en Joepie Bekker in 2007. Hulle het 20 jaar gelede na Warmbad Renaissance getrek
Hulle het aanvanklik saam as toergidse vir verskeie toeroperateurs opgetree. Nadat Joepie haar in 2013 ontval het, het Delene voortgegaan om vrou-alleen hierdie funksie vir JB-treintoere te vervul.

Klik HIER om JB-treintoere se webtuiste te besoek
Op 71-jarige ouderdom is Delene selde tuis. Sy behartig op haar eentjie die algemene organisasie van toere waarvoor sy as toergids optree en is sy verantwoordelik vir die wel en weë van toerlede.

Delene geniet 'n verposing
Die meeste toere waarvoor sy verantwoordelik is sluit 'n retoer-treinrit van Johannesburg af na die Wes-Kaap in, gevolg deur 'n bustoer na 'n bepaalde bestemming soos Namakwaland, die Kaapse Wynland of die Weskus. Sy vergesel dikwels ook toergroepe na Durban, Namibië en die Tuinroete.

Op die onvermydelike vraag waarom sy op haar ouderdom nog daarvoor kans sien om só te woel en werskaf, antwoord sy onomwonde: "Ek is bang ek stagneer as ek nie besig bly nie." Hierbenewens ervaar sy die geselskap van die groot verskeidenheid mense waarmee sy te doen kry as opwindend en interessant.

Delene en Joepie het vier kinders grootgemaak. Die agt kleinkinders en een agter-kleinkind is haar hart se punt.

No comments:

Post a Comment