Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Thursday 17 July 2014

'n Meneer in hart en niere

In vervloë dae het Engeland sy Mr. Chipse gehad en Suid-Afrika sy Menere. Braam Cilliers is een van die onderwysers uit 'n vorige geslag wat met reg aanspraak kon maak op daardie eretitel.

Braam is op 4 Junie 1934 op Zeerust in die voormalige Wes-Transvaal gebore. Hy het in 1952 aan die Hoërskool Diamantveld in Kimberley gematrikuleer. Hier was een van sy klasmaats Tom Vaughan, wat later die Voorsitter van die Warmbad Renaissance Bestuurskomitee sou word.

Hy het in Januarie 1953 as 'n klerk by die Suid-Afrikaanse Spoorweë begin werk. In 1955 meld hy vrywillig vir basiese militêre diensplig aan, eers by Tempe in Bloemfontain en later by Voortrekkerhoogte in Pretoria. Een van sy mede-lotelinge in die Regiment Kimberley was die bekende regsgesinde wat later van moord op Chris Hani skuldig bevind is en tans 'n lewenslange vonnis uitdien, Clive Derby-Lewis. Ian Kirkpatrick, die voormalige Springboksenter en -losskakel was een van sy offisiere.

In Januarie 1956 bewerkstellig Braam 'n oorplasing na Pretoria en registreer as 'n na-uurse student aan die toentertydse Normaalkollege Pretoria. Hier verwerf hy in 1959 die Hoër Onderwysdiploma en Transvaalse Hoër Onderwysdiploma. 

"Myns insiens was ons opleiding van hoë gehalte met die klem op veelsydigheid  en bruikbaarheid," onthou Braam.

Hy stem saam met waarnemers wat beweer dat, weens die feit dat die ANC-regime onderwyskolleges kort ná sy bewindsoorname in 1994 een vir een tot niet gemaak het in die naam van transformasie, Suid-Afrika vandag sit met derduisende swak opgeleide onderwysers wat volgens aanduidings nie juis toegewyd is aan hulle beroep en hulle leerlinge nie.

Hy het in Januarie 1960 sy loopbaan as 'n onderwyser aan die Laerskool Potgietersrus begin en gou gevorder tot Vise-hoof van die Laerskool Marble Hall, waar hy tot sy aftrede aan die einde van Desember 1993 gewerk het. Hier het hy talle kere as Hoof waargeneem. Sy wederhelfte, Bets, was 'n Departementshoof: Junior Primêre Fase aan dieselfde skool.

Braam (voor, derde van links) in 1969 saam met sy kollegas aan die Laerskool Marble Hall
Afgesien van 'n vol onderrigprogram, was Braam ook intensief betrokke by sy skool se buite-kurrikulêre aktiwiteite. Hy was nie alleen die sportorganiseerder nie, maar het ook rugby, atletiek en swem afgerig.

Na sy aftrede het hy en Bets sewe jaar lank aan 'n privaatskool in die destydse Lebowa onderwys gegee.

"Onderwysers van daardie era het die onderwys gesien as 'n verlengstuk van die ouerhuis. Hulle moes sorg vir die inskerping van aanvaarbare huislike norme. Trouens ons het gefokus op al die menslike eienskappe wat van mense goeie individue maak," sê Braam.

Is dit vandag nog só?

"Volgens alle aanduidings het die gehalte van die onderwys merkbaar verswak en dissipline van leerlinge en onderwysers 'n baie groot probleem geword," meen Braam. "In ons era was stakings en protesoptogte ongehoord; ons het alles feil gehad vir die belange van ons leerlinge en ons beroep."

Braam glo dat die meeste onderwysers van sy era gerespekteerde individue in die samelewing was; daar is na hulle opgesien en hulle integriteit is selde in twyfel getrek.

Braam en Bets tydens sy tagtigste verjaardagviering
Toe Braam oblangs sy tagtigste verjaardag gevier het, het hy 'n aangrypende getuigskrif ontvang. Sy seun, Andries, het op sy facebook-blad van dié mylpaal melding gemaak. Gou-gou het sowat 80 van Braam se oud-leerlinge en oud-kollegas van oraloor, insluitend Australië, Nieu-Seeland, Kanada en Dubai, boodskappe van seënwense geplaas.

No comments:

Post a Comment