Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Monday 27 January 2014

Piet se passie

Warmbad Renaissancers het al vir Piet Combrink (Eenheid 6) leer ken as 'n passievolle omgewingsbewaarder. Hierin word hy met oorgawe deur sy wederhelfte, Amy, ondersteun.

Piet en Amy Combrink
Piet het oor die jare heen diep spore op die gebied van omgewingsbewaring getrap. As 'n gerespekteerde bees- en wildboer van die plaas Vaalkop, naby Thabazimbi, was hy betrokke by die Thabazimbi-natuurbewaringsadvieskomitee, die Thabazimbi-grondbewaringskomitee en die Transvaalse Wildvereniging. As voorsitter van die Wild-studiegroep het hy 'n roofvoëldag gereël wat gelei het tot die stigting van die Bosveld-roofvoëlbewaringsvereniging. Hierbenewens het hy voetslaanpaaie op Vaalkop uitgelê, bome laat identifiseer en van naamplaatjies voorsien.

Dit was dus geen verrassing nie toe Piet in 1997, deur die Departement van Omgewingsake benoem is as 'n kandidaat vir die natuurbewaringswisseltrofee wat jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging toegeken word aan die Suid-Afrikaanse grondeienaar wat oor 'n bepaalde tydperk die meeste vir natuurbewaring gedoen het. Dié trofee is op 1 November 1997 in Pretoria aan hom oorhandig.

Piet boer nie meer voltyds nie. Sy seun, Japie, wat deesdae sy plek op Vaalkop volstaan, is egter nét so toegewy aan omgewingsbewaring as sy pa. Die onderstaande foto's wat onlangs op Vaalkop geneem is, is sprekende voorbeelde daarvan.

Wilde diere floreer op Vaalkop
Vaalkop. Só lyk 'n plaas in die Bosveld waar omgewingsbewaring die boer se erns is
[Die inligting in hierdie berig is ontleen aan die 14 November 1997-uitgawe van Die Kwêvoël, Thabazimbi se plaaslike koerant. Piet het die foto's verskaf.]

No comments:

Post a Comment