Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Monday 6 January 2014

Corrie se orrel

In Corrie en Pat Pretorius (eenheid 133) se voorhuis staan 'n kosbare kleinnood: 'n gerestoureerde Thomas-harmonium.


'n Harmonium word beskryf as "a type of reed organ that generates sound with foot-pumped bellows."

Die "Thomas Organ & Piano Co.", 'n maatskappy wat in 1875 deur Edward G Thomas in Woodstock, Ontario, Kanada gestig is, het die harmonium gebou.

'n Internet-soektog het aan die lig gebring dat harmoniums wat sterk ooreenkomste met Corrie en Pat s'n vertoon, gedurende die Victoriaanse periode (1837 - 1901) vervaardig is.

Daar kan dus met 'n mate van sekerheid gespekuleer word dat Corrie-hulle se instrument waarskynlik met die draai van die vorige eeu vervaardig is.

'n Voormalige inwoner, Toenie de Lange, het die harmonium bykans sestig jaar lank besit voordat sy dit 'n jaar gelede aan Corrie en Pat geskenk het.

Corrie vertel dat die instrument in 'n ietwat gehawende toestand was toe sy dit oorgeneem het.

Sy het Tommie Marx (eenheid 114), 'n knap voormalige houtwerkonderwyser en sélf 'n bedrewe orrelspeler, genader om die restourasiewerk te onderneem.


Tommie het aan die werk gespring en vasgestel dat daar in werklikheid min met die harmonium skort. Hy het die fluite skoongemaak, 'n ou muisnes en ander rommel uit die klankkas verwyder, 'n stukkende blaasbalk herstel en die onleesbare register-etikette vervang.


Hierbenewens is meubel-olie aangewend om die pragtige houstneewerk ten beste te laat vertoon en siedaar, 'n werkende harmonium in 'n puik toestand; 'n meubelstuk waarop Corrie en Pat met reg trots is.

 






No comments:

Post a Comment