Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Tuesday 3 December 2013

'n Merkwaardige inwoner

Dis vir min mense beskore om die meeste van die groot historiese momente van die afgelope eeu te kon beleef.

Ons oudste inwoner, oom Berend Wierenga (94), onthou die meeste daarvan asof dit gister gebeur het.

Oom Berend Wierenga
"Ek is in 1919 in die dorpie Lagemeeden, 10 kilometer wes van Groningen, Nederland, gebore waar my ouers 'n melkboerdery, Maarswal, bedryf het," vertel hy.

Die Wierenga-melkplaas, Maarswal, naby Groningen, Nederland
Die ineenstorting van die Wall Street-aandelebeurs op 29 Oktober 1929, het die wêreldwye Groot Depressie ingelui. Dit het ook 'n nadelige invloed op die Wierenga-gesin in verre Nederland gehad toe hulle Maarswal in 1932 verloor het.

Oom Berend vertel verder: "Ek moes die skool noodgedwonge op 13-jarige ouderdom verlaat om 'n karige loon by ander boere te verdien. Ek is in 1938 vir diensplig na die Nederlandse leër opgeroep. Toe die Duitse wehrmacht Nederland egter in 1940 binneval, is die Nederlandse leër ontbind."

Hy was gelukkig om in die daaropvolgende jare van groot ontwrigting te oorleef en het darem in 1943 toelating tot die Rijslandbouwwinterschool in Groningen verkry waar hy 'n kwalifikasie in landbou behaal het.

In Mei 1948 tree hy op 29-jarige ouderdom met Jantje Dykema in die huwelik.


Oom Berend en tant Jantje Wierenga op hul troudag in Mei 1948
Omdat die Nederlandse ekonomie weens die Tweede Wêreldoorlog maar wankelrig was en die geleenthede min, het hulle in 1951 besluit om familielede wat vroeër na Suid-Afrika uitgewyk het, te volg.

En so beland hulle toe in die Settlers-omgewing, nie ver van Bela Bela af nie.

Hier het hy om 'n deel saam met sy swaer geboer totdat hy in 1962 sy eie plaas, Winfield, kon koop.

Op Winfield het hy 'n gemengde boerdery bedryf en hard gewerk. Trouens, as 'n mens vir oom Berend vra waaraan hy sy lang lewe toeskryf, antwoord hy sonder huiwering: "Harde werk. Baie harde werk."

Hy was aktief betrokke by georganiseerde landbou-aktiwiteite. Trouens hy toon steeds as 'n erelid 'n belangstelling in die bedrywighede van die Springbokvlakte Boerevereniging.

'n Wyse person het eenmaal gesê dat 'n man se waarde direk eweredig is met die agting wat hy in eie kring geniet. 'n Kennis van oom Berend vertel dat die boerderygemeenskap van Settlers steeds groot agting vir hom koester.

Intussen het sy gesin aangegroei. Tien kinders is uit sy en tant Jantje se huwelik gebore. Oom Berend vertel dat hy dankbaar is dat hy hulle almal kollege of universiteit toe kon stuur. Vandag spog hy met 'n uitgebreide familie van 26 kleinkinders en 11 agterkleinkinders.

Hy en tant Jantje het in 1993 hulle intrek in eenheid 34 geneem. Oom Berend was 74 jaar oud. Tant Jantje het die pragtigste hekelwerk gedoen en gereeld pryse op landboutentoonstellings gewen.

Tant Jantje Wierenga en 'n voorbeeld van haar hekelwerk
Tant Jantje het hom in 2005 ontval na 'n lang en geseënde huwelik van 57 jaar.

Hierdie merkwaardige man geniet steeds uitstekende gesondheid, werskaf in sy tuin en bestuur self sy motor.

 

No comments:

Post a Comment