Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Wednesday 11 December 2013

Louis (en bra Willy) is onmisbaar

Louis van Wyk (77) staan in die oord bekend as die man wat sedert 2008 alles wat herstelwerk benodig, wel ... herstel. Sy hande staan vir absoluut niks verkeerd nie.

Louis wat op sy bromponie die oord vol agter herstelwerk aan rondrits, is 'n 'n bekende gesig.
Louis voer sy taak as die oord se onderhoudsman met groot toewyding uit. Die meeste inwoners waardeer die knaphandige wyse waarop hy en sy assistent, William, bykans alles wat ongedaan raak, herstel. 

William Baloi, oftewel bra Willy soos sy vriende hom noem, is Louis se assistent. Hy werk al 17 jaar by die oord
Louis is in die distrik Roodepoort gebore. Sy pa is voor sy geboorte oorlede. Toe hy nog klein was, het die gesin na Chingola in die toentertydse Noord-Rhodesië, verhuis. Daar het hy begin skoolgaan en later sy skoolopleidng aan die Hoërskool Swartruggens voltooi. Hy wou graag 'n onderwyser word, maar moes weens omstandighede 'n vakleerlingskap in modelmaak by ERPM deurloop. Intussen het hy verder studeen en die N3-sertifikaat aan die Benoni Tegniese Kollege verwerf.

Later het hy by Heinemann Electrical Industries in diens getree as 'n bouer van elektrisiteitstroombrekers. Dié firma was baie tevrede met sy werk en het hom na Amerika, Duitsland en Engeland gestuur om verdere opleiding te ondergaan. Later het hy namens die firma swart produksie-operateurs in die voormalige QwaQwa opgelei.

Louis het na 36 jaar by Heinemann uitgetree. Hy was 59 jaar oud. In 1995 het hy en sy wederhelfte, Baby, in die oord kom woon.

Louis en Baby is reeds 56 jaar getroud. Hulle huwelik is geseën met Linda, wie se eggenoot 'n NG-sendeling is, en Johannes, wat sy eie sake-onderneming bedryf. Hulle het vyf kleinkinders en een agterkleinkind.

No comments:

Post a Comment