HERMAN EN ANTOINETTE LE ROUX (E48)
skryf: Die onlangse gebeure met betrekking tot die Britse koningshuis het ons met ʼn glimlag laat dink
aan ʼn
gebeurtenis etlike jare gelede wat die binnekring van ons familie nou nog laat
lag.
Ons kinders, Jaco en René, was
sowat vyf jaar in Engeland woonagtig waar hy hoofsaaklik hartsonars gedoen het.
Eendag versoek ʼn kardioloog hom om op ʼn baie spesiale persoon ʼn hartsonar en
EKG te doen. Die ondersoek was egter hoogs geheim omdat hulle wou verhoed dat
dit aan die pers uitlek.
Hierdie spesiale persoon het toe
prins Charles geblyk te wees. Die ondersoek het
net voor sy huwelik met Camilla plaasgevind. Die koningshuis was bang dat dit
sou uitlek en dat die koerante sou spekuleer dat prins Charles moontlik
hartprobleme het, en dít
voor sy troue.
 |
| Hierdie foto is tydens die aankondiging van prins Charles en Camilla se verlowing geneem |
Prins Charles en sy gevolg, bestaande uit onder andere sy private kardioloog, het by die hospitaal
opgedaag. Prins Charles het met ʼn hand so sag
soos ʼn
baba se boudjies gegroet, so asof dié hande nog nooit in hulle lewe ʼn steek harde
werk verrig het nie.
Jaco het die prins se borshare vir
die EKG-plakkers afgeskeer. Charles het op die trapmeul begin draf terwyl hy
kla: “Is it really necessary, this is
utter torture!”.
Een Saterdag besluit René om huis
skoon te maak en op ʼn rak in die studeerkamer ontdek sy ʼn botteltjie wat baie
verdag lyk. “Jaco, wat op aarde is in dié botteltjie?” Vaag antwoord hy: “Dis
prins Charles se borshare!!!” Geskok sê sy: “Jaco, jy is weird,
man!” Grappenderwys vertel hy toe maar dat hy daarmee wil geld maak. René wou
opsluit niks daarvan weet nie en die botteltjie het summier in die
snippermandjie beland.
Soms wonder ons of KONING Charles
se borshare vandag nie meer werd sou gewees het as PRINS Charles s’n nie!