Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Saturday 5 November 2022

Prins Charles se borshare

 

HERMAN EN ANTOINETTE LE ROUX (E48) skryf: Die onlangse gebeure met betrekking tot die Britse  koningshuis het ons met ʼn glimlag laat dink aan ʼn gebeurtenis etlike jare gelede wat die binnekring van ons familie nou nog laat lag.

Ons kinders, Jaco en René, was sowat vyf jaar in Engeland woonagtig waar hy hoofsaaklik hartsonars gedoen het. Eendag versoek ʼn kardioloog hom om op ʼn baie spesiale persoon ʼn hartsonar en EKG te doen. Die ondersoek was egter hoogs geheim omdat hulle wou verhoed dat dit aan die pers uitlek.

Hierdie spesiale persoon het toe prins Charles geblyk te wees. Die ondersoek het net voor sy huwelik met Camilla plaasgevind. Die koningshuis was bang dat dit sou uitlek en dat die koerante sou spekuleer dat prins Charles moontlik hartprobleme het, en dít voor sy troue.

Hierdie foto is tydens die aankondiging van prins Charles en Camilla se verlowing geneem

Prins Charles en sy gevolg, bestaande uit onder andere sy private kardioloog, het by die hospitaal opgedaag. Prins Charles het met ʼn hand so sag soos ʼn baba se boudjies gegroet, so asof dié hande nog nooit in hulle lewe ʼn steek harde werk verrig het nie.

Jaco het die prins se borshare vir die EKG-plakkers afgeskeer. Charles het op die trapmeul begin draf terwyl hy kla: “Is it really necessary, this is utter torture!”

Een Saterdag besluit René om huis skoon te maak en op ʼn rak in die studeerkamer ontdek sy ʼn botteltjie wat baie verdag lyk. “Jaco, wat op aarde is in dié botteltjie?” Vaag antwoord hy: “Dis prins Charles se borshare!!!” Geskok sê sy: “Jaco, jy is weird, man!” Grappenderwys vertel hy toe maar dat hy daarmee wil geld maak. René wou opsluit niks daarvan weet nie en die botteltjie het summier in die snippermandjie beland.

Soms wonder ons of KONING Charles se borshare vandag nie meer werd sou gewees het as PRINS Charles s’n nie!

No comments:

Post a Comment