Sonkrag Johan Benade (E86)
In die 1920’s ontvang Albert Einstein en
Robert Milliban onderskeidelik Nobelpryse vir hulle navorsing oor die
foto-elektriese effek.
Dit vorm van die hoekstene van wat ons
vandag losweg “sonpanele” noem, maar wat
eintlik fotovoltaïese selle is. Dit kom kortweg daarop neer dat wanneer lig op
‘n metaal val, dit elektrone vrystel...
die basis van elektrisiteit . Ons moes dus
byna ‘n eeu wag voordat ons die punt bereik het waar sonkrag, vandag, redelik
algemeen gebruik word om elektrisiteit mee op te wek.
Die beginpunt van ‘n
sonkragstelsel is die sg. sonpanele wat inderwaarheid ‘n hele klomp baie klein
sonpaneeltjies is wat aanmekaar gesit is
om ‘n groter paneel te vorm. Dit is die swart panele wat ons op die dakke van
huise sien. Hoe meer panele daar is hoe meer elektrisiteit wek hulle op en hoe
meer sonlig op hulle val, hoe meer doeltreffend is hulle. Daar bestaan reeds
sg. sonplase waar die totale oppervlakte van die sonpanele etlike hektaar is.
Sonpanele werk net terwyl die son skyn.
As jy dus elektrisiteit gedurende die
nag wil gebruik moet jy dit wat gedurende die dag opgewek is, iewers stoor.
Daarvoor benodig jy ‘n battery. Tussen die sonpanele en die battery benodig
jy ‘n laaireguleerder (charge
controller) wat die hoeveelheid
elektrisiteit wat vanaf die
sonpaneel na die battery vloei reguleer
ten einde nie die battery te beskadig nie.
Die elektrisiteit wat die sonpanele
verskaf, sowel as dit wat in die battery gestoor is , is in die vorm van
gelykstroom-elektrisiteit. Die elektriese toestelle in ons huise werk egter
met 230V wisselstroom- elektrisiteit. Om die gelykstroom (12 Volt, of
veelvoude daarvan) na wisselstroom om te
skakel benodig ‘n mens ‘n omsetter (inverter).
By die ontwerp van ‘n sonkragstelsel
moet die hoeveelheid elektrisiteit wat
benodig word versoenbaar wees met die
groottes van die sonpanele, die batterye, die reguleerder en die omsetter, en
die groottes van al die komponente moet ook
versoenbaar wees met mekaar.
Om totaal onafhanklik van Eskom te wees
sal ‘n mens ‘n baie groot sonkragstelsel moet aanskaf, iets wat geldelik buite baie van ons se bereik is. Dit is dus
meer prakties om ‘n sonkragstelsel met Eskom se stelsel te integreer sodat jy
eintlik net die sonkragstelsel gebruik wanneer Eskom nie beskikbaar is
nie. So ‘n integrasie benodig ’n ingewikkelde elektroniese beheerstelsel en
bespreking daarvan val buite die omvang
van hierdie artikel.
Dankie Johan!
Min van ons weet regtig hoe die dinge in mekaar steek.
No comments:
Post a Comment