Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Saturday 9 July 2022

Oord verwelkom Renier en Esta de Beer

Oud-skoolhoof Renier de Beer (69) en sy eggenote, Esta (63), het onlangs vanaf Mpumalanga na Limpopo verhuis nadat hulle E55 aangeskaf het. Terloops, hulle nuwe woonplek het voorheen aan die voormalige Protea-krieketspeler, A B de Villiers, se ouma, wyle Ramona Wessels, behoort.

Esta is in Pretoria gebore, maar beskou Roossenekal as haar grootwordplek. Nadat sy in 1976 aan die Hoërskool Middelburg gematrikuleer het, het sy verskeie administratiewe poste beklee, insluitend dié van skoolsekretaresse. Intussen het sy ̓n interessante stokperdjie bedryf, naamlik die vervaardiging van wigvormige skuimrubber-ondersteuningskussings op versoek van die SAVF vir persone wat aan heup-, nek-, rug-, knie- en spysverteringsprobleme ly.

Renier is in Rustenburg gebore en het op Grootvlei grootgeword. Hy het in 1971 aan die Hoërskool Pretoria-Noord gematrikuleer. In 1975 het hy die Hoër Onderwysdiploma aan die Normaalkollege Pretoria behaal. Hierna het hy by verskeie primêre skole wiskunde onderrig. Hy was 25 jaar lank hoof van die Laerskool Uitkyk voordat hy in 2016 afgetree het.

Renier en Esta is in 1978 op Roossenekal getroud. Hulle het twee kinders en vier kleinkinders. Hulle dogter en haar gesin woon op Bela-Bela en hulle seun en dié se gesin verhuis eersdaags na ons dorp.

Die egpaar het verskeie aftreeoorde op Bela-Bela oorweeg voordat hulle aanklank gevind het by hulle gerieflike eenheid (E55), asook ons oord se goedversorgde terrein, vriendelike inwoners en goeie veiligheidsmaatreëls. 

No comments:

Post a Comment