Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Tuesday 29 September 2020

Botaniese tuin kom dalk langs ons oord

ANDRIES VAN DER HEYDE skryf in Die Pos-koerant van 11 September: ʼn Groep inwoners van Bela-Bela beywer hulle daarvoor om ʼn botaniese tuin op die Alma-pad buite die dorp te vestig in ʼn poging om die natuur vir die nageslag te bewaar.

Een van die gebiede wat hiervoor geïdentifiseer is grens aan die Warmbad Renaissance-aftreeoord.

Die onderstaande foto’s bied ʼn uitsig op die terrein. 

Die bostaande foto is vanaf die ingang van die Tuintuiste-aftreeoord in die rigting van ons oord geneem

Hierdie foto bied ʼn uitsig vanaf die dorpsreservoirs in die rigting van die dorp. Ons oord lê links.

Tinus Ras, DA-raadslid, het onlangs ‘n video versprei waarin gevra word dat inwoners die projek sal ondersteun om die oorblywende deel van Gedeelte 25 (die gedeelte wat van die dorpsreservoirs tot teenaan die Alma-pad en Warmbad Renaissance strek, in ʼn botaniese tuin te omskep.

Inwoners het besluit om dié stuk grond op eie koste te omhein. Die munisipaliteit het reeds mondelings toestemming daarvoor gegee, maar die projek sal afskop sodra skriftelike goedkeuring verkry is, het Ras gesê.

Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum is ten nouste betrokke by die projek.

“Hierdie projek kan die bewaring van die flora van Limpopo op ʼn wetenskaplike wyse vestig en bydra tot ons dorp as toerismebestemming en as poort  tot die ervaring van die Waterberg-biosfeer en Limpopo. Ons moet egter kan bewys dat die projek beduidende steun in die gemeenskap geniet,” het Mills verduidelik.

Mills het voorts gesê die idee is reeds deur die provinsiale department van natuurbewaring verwelkom en word in beginsel deur die die Suid-Afrikaanse Botansiese Instituut ondersteun.

ʼn Versoekskrif word intussen rondgestuur waarop mense hulle steun aan die beoogde projek kan betuig. Mills het gesê hoe meer mense dit ondersteun, hoe groter is die druk op amptenary om die ontwikkeling gunstig te oorweeg.

‘n Verteenwoordiger van ons oord het op 15 September ‘n vergadering bygewoon waartydens ‘n loodskomitee gestig is. Philip van den Berg (E34) sal ons in die loodskomitee verteenwoordig.

 

No comments:

Post a Comment