Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Tuesday 29 January 2019

Ons verwelkom nuwe inwoner Dalla Posthuma

Dalla Posthuma

Die veelsydige Dalla Posthuma (73), wat onlangs haar intrek in E112 geneem het, is nie net ʼn gekwalifiseerde wiskundeonderwyser nie, sy was op haar dag ʼn formidabele skolenetbalafrigter op nasionale vlak en ʼn kleremaker van formaat. Les bes is sy tans werksaam by ʼn plaaslike bandeonderneming wat deur haar broer besit word.

Dalla is ʼn boorling van eMalahleni, voorheen Witbank. Sy het ook daar grootgeword en skoolgegaan.

Nadat sy in 1962 matriek aan die Hoërskool Generaal Hertzog geslaag het, het sy vier jaar lank verpleeg voordat sy haar as ʼn wiskundeonderwyser aan die Onderwyskollege Pretoria bekwaam het. Sy het by verskeie primêre en hoërskole skoolgehou voordat sy haar op Bethal gevestig het.

In Bethal het Dalla en Bets de Jager bevriend geraak. Bets het haar juis oorreed om na ons oord te verhuis toe sy begin rondsoek na veilige, bekostigbare verblyf op die platteland. Inwoners sal dalk   onthou dat Bets en Tommie voorheen E112 bewoon het.

Op Kwêvoël se vraag of sy lekker woon, het sy onomwonde geantwoord dat die netjiese terrein, vriendelike en behulpsame inwoners, asook die rustigheid van die platteland wat sy hier ervaar, vir haar heerlik is. Pretoria met sy uitstekende mediese geriewe wat slegs ʼn uur per motor hiervandaan is, is ʼn verdere pluspunt.

Dalla is baie trots op haar drie dogters, agt kleindogters en een agterkleinseun.

No comments:

Post a Comment