Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Tuesday 30 October 2018

Só het ons oord ontwikkel (5)

Soos voorheen vermeld, beoog ons om maandeliks stories van ons oord se ontwikkeling te plaas. Hiervoor het ons soms gaan kers opsteek by persone wat betrokke was, maar meer dikwels het ons ons tot ou notules van die bestuurskomitee en fotoalbums gewend en afgekom op kosbare grepies uit ons oord se verlede.

Ons oord se inwoners is daarvoor bekend dat hulle dikwels sterk individualisties is. Trouens, hulle is soms gewoon hardkoppig.

Dit was dus vir ons nie vreemd om in die notules van die bestuurskomitee te lees van die konsternasie wat inwoners oor die jare heen veroorsaak het nie.

Een van die inskrywings alsolief verwys na die Sage van die klavier.

Ons vermoed dat die klavier waarop voormalige inwoner Lucia Pagel speel en tans in die Nes pryk (kyk foto hieronder), dieselfde is as die een waaroor die polemiek bykans 25 jaar gelede gevoer is.


Dié klavier het die “ou” Carl Ecke-klavier vervang wat toentertydse inwoners Ina en Basie du Plessis op 16 Februarie 1993 aan die oord geskenk het (kyk foto hieronder).


Ons haal woordeliks, d.w.s. skryffoute en al, uit die notule van die bestuurskomitee aan. Die regte naam van die betrokke individu word vervang met “mev. Annie Anoniem” sodat sy nie in die verleentheid gestel word nie, al het sy jare gelede reeds verhuis. Mev. Annie Anoniem was toentertyd ʼn lid van die bestuurskomitee.

Onder die opskrif  Wederregtelike aankoop van klavier ens., lui die notule van 4 November 1993 soos volg: “Uit hierdie eensydige optrede van Mev. Annie Anoniem het die volgende gespruit: Gedurende die week van 11 Oktober het die Voorsitter verneem dat Mev. Anoniem ʼn klavier laat aflewer het met die veronderstelling dat die koste van R5 000 vir die koste van die Algemene Vergadering is.

Die Voorsitter het Mev. Annie Anoniem persoonlik meegedeel dat haar optrede eensydig, wederregtelik en buite orde is en dat sy in haar persoonlike hoedanigheid verantwoordelik gehou word vir die betaling van die R5 000 en nie die Algemene Vergadering nie.

Na verdere breedvoerige besprekings … het die Komitee aan die Voorsitter, sonder teenstem, ondersteuning en goedkeuring vir sy optrede verleen.

Die Komitee kondoneer dus nie Mev. Annie Anoniem se optrede nie en bevestig dat sy verantwoordelik gehou word vir die koopsom of enige uitstaande balans.”

Op 12 Januarie 1994 lui die notule: “Mev. Anoniem het die verskuldigde bedrag van R5 000 uit eie bronne betaal. Sy vra toestemming om met ‘n lys in en buite die Oord rond te gaan om donasies te vra. Mnr. Bester [die toentertydse ontwikkelaar] onderneem om eers leweransiers van bouprodukte te nader om donasies. Die ou klavier sal intussen na Platrivier Oudhede Winkel geneem word om verkoop te word”

Ons kon nie vasstel of dié fondinsamelingspoging suksesvol was nie.

No comments:

Post a Comment