Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Monday 29 October 2018

Rus vir die holte van hul voet

Annemie Ihlenfeldt
Annemie Ihlenfeldt (E133) is 62 jaar gelede in Bloemfontein gebore waar sy in 1973 haar skoolopleiding aan die Hoërskool Sentraal voltooi het. Hierna het sy een jaar lank militêre opleiding aan die Suid-Afrikaanse Vroue Leërkollege op George ontvang.

Vanaf 1975 het sy aan die Universiteit van die Orange-Vrystaat studeer en in 1977 ʼn BA-graad behaal. Haar hoofvakke was Kommunikasiekunde en Staatsleer. Nadat sy haar universiteitsloopbaan voltooi het, is sy as ʼn inligtingsoffisier met die rang van luitenant by die SANW-verdedigingshoofkwartier in Pretoria aangestel.

Hier het sy haar toekomstige wederhelf, Kallie, ontmoet. Kallie was ook ‘n soldaat. Hulle is in 1980 in Bloemfontein getroud. Hy het haar in 2012 ontval.

Annemie en Kallie het in 2001 uit die SANW getree, hy met die rang van kolonel en sy as kaptein.

ʼn Seun, dogter en een kleinkind is uit hulle huwelik gebore.

Neels en Edna Cornelius
Neels (70) en Edna (67) Cornelius, het onlangs hul intrek in E118 geneem, enersyds omdat Neels nader aan sy wildsplaas, Hardekoolbult op Koedoeskop, wou woon en andersyds omdat Edna se jarelange vriendin, Linkie Ellis (E138), hul oorreed het dat ons oord die aangenaamste woonplek in die ganse Bosveld bied.

Neels is in Linden, Johannesburg, gebore en het grootgeword op die fa-milieplaas, Hardekoolbult, naby Thabazimbi. Nadat hy in 1965 aan die Hoërskool Frikkie Meyer op Thabazimbi gematrikuleer het, is hy na die Technikon Pretoria. Hier het hy die Nasionale Tegniese Diploma in elektromeganika behaal. ʼn Indrukwekkende loopbaan in        elektromeganika het gevolg, o.a. as produksiebestuurder by die toenmalige Yskor en bemarkingsbestuurder by Copalcor. Laasgenoemde het koper en geelkoper aan die motor- en elektriese nywerheid gelewer.

Edna is in Tanzanië gebore. Die Mau-Mau-bedreiging het die gesin destyds genoop om na Pretoria te verhuis nadat haar pa hulle plaas verkoop het dog nooit daarvoor betaal is nie. Sy het in 1967 sy matriek aan die Hoërskool Gerrit Maritz behaal. Hierna het sy ʼn Hoër Onderwysdiploma in primêre onderwys aan die Normaalkollege Pretoria behaal asook ʼn sertifikaat in jeugweerbaarheid aan UNISA. Sy was 27 jaar lank ʼn onderwyser, o.a. by die Laerskool Nellie Swart. In 1984 is sy aangestel as ʼn dosent in tale by die Onderwyskollege Soshanguwe. Sy het in 1997 uitgetree om ʼn voltydse tuisteskepper te word.

Neels en Edna is 32 jaar getroud. Hulle het twee seuns en twee kleinkinders.

Gert en Elize Strydom
Gert (76) en Elize (68) Strydom het lank op Vrede gewoon voordat hulle onlangs in E2 ingetrek het.

Gert is in Springs gebore en getoë. Hy het in 1960 aan die Hoër Tegniese Skool Springs gematrikuleer. Hierna het hy verskeie administratiewe poste in Namibië en Suid-Afrika beklee. Terwyl hulle op Vrede gewoon het, was hy boer, balju en skriba van die Afrikaanse Protestantse Kerk.

Elize is in Vereeniging gebore en het op Leandra grootgeword. Sy het in 1976 matriek aan die Hoërskool Balfour behaal. Vervolgens was sy ʼn tuisteskepper terwyl hulle kinders nog op skool was en later ʼn administratiewe beampte by Avondvrede-aftreeoord en Hoërskool Vrede. Elize is ook ʼn knap klavierspeler wat bykans 30 jaar lank ook die kerkorrel bespeel. Tans beklee sy die amp van orrelis in die AP Kerk op Bela-Bela.

Gert en Elize is 47 jaar gelede getroud. Twee dogters en ses kleinkinders is uit hulle huwelik gebore.

No comments:

Post a Comment