Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Thursday 23 August 2018

Plaaslike koerant skryf oor inwoner

Die Pos-koerant plaas so dan en wan ’n rubriek getitel Uit toeka se dae. Onlangs het ‘n beriggie onder die opskrif “Nederige lewe vol geluk en seën” oor Chris Snyders (E97) daarin verskyn.

Chris Snyders
Verslaggewer ANDRIES VAN DER HEYDE skryf: Die Pos het by Chris Snyders (81) van Bela-Bela gaan kuier vir ons maandelikse Toeka se dae-rubriek.

Snyders geniet op sy oudag steeds goeie gesondheid, is dankbaar vir die lewe wat hy tot dusver gelei het en is geseënd om vreugde in sy lewe te ervaar. Hy en sy vrou, Lizzie, is reeds 60 jaar getroud.

Waar kom jy vandaan en wat was jou beroep?
Ek is in Kimberly gebore, het in De Aar grootgeword en het daar skoolgegaan, waarna ek by Hoërskool Gimnasium in Potchefstroom gematrikuleer het.

Ek het my bekwaam as ʼn passer van elektriese lokomotiewe by die destydse Suid-Afrikaanse spoorweë, waar ek vir 33 jaar gewerk het.

Ek en my vrou, Lizzie, woon reeds 18 heerlike jare in Bela-Bela in die pragtige Renaissance-aftreeoord.

Wat is die grootste veranderinge wat jy in jou leeftyd beleef het?
Die grootste verandering was toe televisie destyds in my sitkamer verskyn het en ek nie meer met my ore naby ʼn radio na ʼn denkbeeldige rugbywedstryd moes kyk nie. Dit was nogal ʼn groot belewenis.

Wat dink jy van vandag se jongmense?
Hedendaagse jongmense het baie groter uitdagings op elke terrein as toe ek jonk was. Hulle sal moet aanhou, vashou en moedhou om hulle doelwitte te bereik.

Wat is die een les wat die lewe jou geleer het?
Die lewe het my geleer geleer om in alle omstandighede waarheid en standvastigheid hoog te ag – ja is ja en nee is nee.

Wat lees jy graag?
My gunstelingskrywer is FA Venter, veral die reeks oor die Groot Trek.

Mense is so negatief oor die land, maar wat maak jou opgewonde oor Suid-Afrika?
Suid-Afrika is vir my ʼn pragtige land. Daar is sonskyn, ruimtes, natuur, berge, see en vlaktes – wat meer wil ek hê?

Wat is die onvergeetlikste reis wat jy in jou lewe onderneem het?
Die mooiste plek vir my was die magtige Victoria-watervalle toe ons 60 jaar gelede, tydens ons wittebrood, per trein na Rhodesië gereis het.

As jy jou hartsmense moet oornooi vir ete, wat sal jy voorsit?
Ek sal vir hulle braaivleis en potbrood maak. Vir nagereg sal dit malvapoeding met baie room wees.

Wie is jou kinders en kleinkinders?
Ons het twee seuns, Wimpie en Lourie. Albei woon in Pretoria. Ons het ook vier kleinkinders en vier agterkleinkinders.

No comments:

Post a Comment