Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Monday 20 August 2018

Só het ons oord ontwikkel (3)

Soos voorheen vermeld, beoog ons om in die volgende paar maande stories van ons oord se ontwikkeling te plaas. Hiervoor het ons soms gaan kers opsteek by persone wat betrokke was, maar meer dikwels het ons ons tot ou notules van die bestuurskomitee en foto-albums gewend en afgekom op kosbare grepies uit ons oord se verlede.

Ou notules van die bestuurskomitee het in 1993 gewag gemaak van die verloop van gebeure wat tot die totstandkoming van een van die bekende geboue van ons oord gelei het, te wete die Lapa.

Die inskrywings van die notules word vervolgens onveranderd aangehaal. Die teks tussen vierkantige hakies is byvoegings ter verduideliking.

“6 Mei 1993: Dit wil voorkom of die ontwikkelaar ʼn Lapa wil beskikbaar stel vir die gebruik deur die inwoners. Die Lapa sal opgerig word reg voor die dienssentrum [die Nes en administrasie-kantoor], oorkant die pad (Wes van die sentrum).

3 Junie 1993: ’n Brief sal aan mnr. Wessel Bester [die ontwikkelaar] gerig word om te verneem wat die moontlikheid is dat ʼn permanente lapa op die fondasie van eenhede 64, 65 en 66 opgerig kan word.

7 Oktober 1993: Lapa: Die komiteelede besoek na die vergadering die Lapaterrein ten einde ʼn inset te lewer met betrekking tot die beplanning van die uitleg.

14 Julie 1994: Mnr. Bester sê dat hy heel beindruk is met die voorstelle van die lede t.o.v. die Lapa en daar is reeds met die bouwerk begin. Hy word deur die vergadering bedank vir die Lapa. Die ontwikkelaar het goedkeuring verleen om 150 afgedankte posbusse by die plaaslike Posmeester aan te koop teen R900.00. Die posbusse sal ingebou word in die nuwe Lapa.” [Poon van Aswegen (E15), die oudposmeester van Warmbad wat aan die einde van 1992 afgetree het, het aan die skrywer hiervan vertel dat die oord vóór hierdie tyd van ‘n privaatsak gebruik gemaak het.]

14 November 1994: Die lapa word vanaf 17:00 op 1 Desember 1994 (Donderdag) in gebruik geneem. Alle inwoners word hartlik uitgenooi om hierdie heuglike geleentheid op ʼn ‘bring en braai’ basis (bring eie stoele, eie vleis/drankies, asook nodige eetgerei) by te woon. Van die ontwikkelaar se hoofkantoor word eregaste genooi van wie dit nie verwag word om ‘eet en drink’ uit Pretoria saam te bring nie. Die Voorsitter sal die verrigtinge open met ʼn kort woord van verwelkoming rig aan almal en in die besonder ons eregaste uit Pretoria. Daarna sal mnr. Wessel Bester die geleentheid kry om kortliks te antwoord. Die Sosiale-komitee sal reël vir die verversings/eetgerei/stoele wat aan ons ere-gaste voorgesit sal word. ʼn Kompetisie op soek na ʼn paslike naam vir die Lapa sal deur Mev. S. van Bosch geloods word.”

Die eerste foto hieronder is waarskynlik in 1993 geneem voordat die Lapa gebou is. E33/34 (?) is heel regs daarop sigbaar.

Op die onderste foto pryk die Lapa soos dit tans daar uitsien.





1 comment: